Besering hou Rafa uit Montreal

Rafael Nadal.  Foto: Martin Keep/AFP.

Dieselfde buikbesering wat Rafael Nadal uit die Wimbledon-halfeindstryd teen Nick Kyrgios gehou het, sal hom ook langs die baan vir die ATP-toernooi in Montreal hou.

Die Spaanse ster se epiese kwarteindstryd-vertoning teen Taylor Fritz op Wimbledon het natuurlik meer skade as goed gedoen en hy het nog nie voldoende van die besering herstel nie.

Volgens Nadal is hy al vir ’n geruime tyd weer op die oefenbaan en hy het selfs vier dae terug weer aan sy afslane begin skaaf.

“Ek het goed gevoel, maar ná gister se oefensessie het ek weer dieselfde ongemak begin ervaar en dit is steeds daar,” het die Franse Ope-kampioen gesê.

“Nadat ek met my dokter gesels het, het ons op ’n meer konserwatiewe benadering besluit en ek gaan eerder nog ’n paar dae wag voordat ek weer speel. Ek wil graag vir Eugene Lepierre (toernooi-direkteur) en sy span vir hul ondersteuning bedank.”

Ondanks ’n rits beserings – hy het al vanjaar ook met sy voet en ribbes gesukkel – lewer die 36-jarige speler vuurwarm vertonings op die tennisbaan.

Hy het 35 keer in sy 38 wedstryde as oorwinnaar van die baan gestap en hy het sy 21ste en 22ste Grand Slam-titels ingeoes danksy sy seges in Melbourne en Parys.

“Dit is baie hartseer dat ek nie na Montreal kan reis nie. Ek het die toernooi al vyf keer vantevore gewen en is mal daaroor om daar te speel. Ek hoop van harte dat ek weer sal kan terugkom om voor die ongelooflike toeskouers te kan speel.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.