Besering kelder Anderson se kwarteind-droom

Suid-Afrika se Kevin Anderson het Maandag in die tweede stel van sy vierde ronde-wedstryd by die Franse Ope teen Marin Cilic weens ʼn beenspierbesering onttrek.

Dit was ʼn bittere teleurstelling vir die speler wat al baie met beserings gesukkel en vanjaar goed gevaar het nadat hy in 2016 maar min gespeel het.

Cilic het die eerste stel met 6-3 gewen en was in die tweede stel met 3-0 voor toe Anderson die handdoek moes ingooi.  Cilic vorder dus na die kwarteindronde.

Die laaste wedstryde van die vierde ronde is Maandag afgehandel en die agt mans- en vrouewenners kan nou op die kwarteindwedstryde fokus.

Stanislas Wawrinka het tot die teleurstelling van die Franse skare vir Gael Monfils in skoon stelle met 7-5, 7-6, 6-2 huis toe gestuur, en Andy Murray het sy wedstryd teen Karen Khachanov gemaklik in skoon stelle met 6-3, 6-4, 6-4 gewen.

Nadat Fernando Verdasco in die eerste stel die agste gekeurde Kei Nishikori van die baan gevee het, het die Japanner reggeruk en die wedstryd oortuigend in vier stelle gewen, 0-6, 6-4, 6-4, 6-0.

Nishikori sal in die kwarteind teen die eerste gekeurde Murray te staan kom.

♦  Wie van die vroue vanjaar die Franse Opesal wen, kan niemand voorspel nie. Maar wie dit ook is, sal dit ʼn nuwe naam wees wat op die trofee pryk. Daar is nie ʼn enkele vrouekampioen in die toernooi oor nie.

Die laaste van die wedstryde in die vierde ronde is Maandag voltooi. Simona Halep, derde gekeur, het haar wedstryd teen Carla Suarez Navarro verspot maklik met 6-1, 6-1 gewen en baie kenners beskou haar as een van die gunstelinge, soos haar keuring ook aandui.

Elena Svitolina (5) het Petra Martic in ʼn taai wedstryd met 4-6, 6-3, 7-5 geklop. Die tweede gekeurde Karolina Pliskova het drie stelle nodig gehad om haar wedstryd teen Paraguay se Veronica Cepede Royg te wen. Die telling was 2-6, 6-2, 6-4.

Die twee Franse spelers wat glad nie baie lief vir mekaar is nie, het in die laaste wedstryd van die dag mekaar oor die net gekonfronteer. Caroline Garcia (28) het Alizé Cornet se toernooi met 6-2, 6-4 beëindig.

Dinsdag se kwarteindwedstryde –

Baan: Suzanne-Lenglen – 14:00
J. Ostapenko vs C. Wozniacki (11)
D. Thiem (6) vs N. Djokovic (2)

Baan: Philippe-Chatrier – 14:00
K. Mladenovic (13) vs B. Bacsinszky (30)
P. Carreño Busta (20) vs R. Nadal (4)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.