Besering sorg dat Jordy aan Spele onttrek

Jordy Smith was ongetwyfeld een van die gunstelinge om ’n medalje vir Suid-Afrika te wen. Foto: Twitter.

Suid-Afrika se voorste branderplankryer, die talentvolle Jordy Smith, het die moeilike besluit gemaak om homself aan die Olimpiese Spele in Tokio te onttrek.

Hy sukkel reeds geruime tyd met ’n kniebesering en was onlangs op die operasietafel. Ongelukkig neem die herstelproses langer as wat aanvanklik verwag is en hy het besluit om eerder nie ’n kans met die Spele te waag nie.

Dit moet veral ’n bitter pil wees om te sluk nadat hy slegs ’n paar weke gelede nog in ’n onderhoud van sy opwinding vertel het om Suid-Afrika by die internasionale skouspel te verteenwoordig.

“Ek het nooit oor die Olimpiese Spele gedroom nie, want dit was nooit ’n werklikheid vir branderplankryers nie. Maar noudat dinge amptelik is, is dit ’n ongelooflike voorreg om jou land te verteenwoordig,” het Smith destyds gesê.

Deur die Spele mis te loop, poog hy om sy loopbaan te verleng.

“Dit was ’n baie moeilike besluit om te onttrek. Ek sien al vir ’n hele rukkie uit na die Spele en my voorbereidingswerk het goed verloop. Dit is egter die enigste manier om te verseker dat ek ’n lang loopbaan as ’n professionele branderplankryer geniet en om my uiteindelike doelwit te bereik – om die World Surf League-kampioenskap te wen.”

Smith het al vantevore oor die belangrikheid van ’n positiewe invloed op ander se lewens gepraat. En hy sal ongetwyfeld poog om Suid-Afrikaners by die volgende Spele te inspireer.

“Moenie bekommer nie. Ek sal beslis vir die volgende een gereed wees!”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.