Binder gee tree nader aan podium

Moto2-renjaer Brad Binder van Suid-Afrika (17 November 2019) (Foto: AP Photo/Alberto Saiz)

Brad Binder (KTM) het ’n podiumplek in Sondag se Duitse Grand Prix op die Sachsenring-baan rakelings misgeloop, maar het sy beste vertoning in vanjaar se MotoGP-reeks gelewer.

Binder het meesterlik gejaag en met sy vierde plek ʼn groot waarskuwing aan sy teenstanders vir die res van die seisoen gerig.

Die aanvanklike tandekry-probleme waarmee sy KTM-span vanjaar gesukkel het, is nou uitgeskakel en as hy beter in kwalifisering gaan vaar, is ’n paar podiumplekke hom binnekort beskore.

Binder (KTM) het in die vyfde ry in die 13de posisie weggespring, maar die een na die ander voorste jaers soos Francesco Bagnaia, Jack Miller, Johann Mir en Joan Zarco ingehaal en verbygesteek.

Die wedren is deur Marc Marquez (Honda) gewen, met die Portugees Miguel Oliviera tweede (KTM) en die Fransman Fabio Quartararo (Yamaha) derde.

Marquez se oorwinning, sy 11de opeenvolgende sege op Sachsenring, is die volgende hoofstuk van sy sprokiesverhaal ná ʼn reeks ernstige ongelukke wat hom byna sy loopbaan gekos het.

Binder het met sy vierde plek tot die sewende posisie (56 punte) op die kampioenskapspuntelys opgeskuif.

Quartararo (131) is steeds voor, gevolg deur Zarco (109) en Miller (100).

* Vroeër in die Moto3-ren het die jonger Binder-broer, Darryn, 14de geëindig nadat hy deur die beamptes met ʼn tydboete gestraf is.

Die wedren is deur Pedro Acosta (KTM) gewen, wat sy voorsprong op die puntelys verder vergroot het.

Kaito Toba (CIP Green Powder) was tweede en Dennis Foggia (Leopard Racing) derde.

Die volgende wedren is komende Sondag se Motul TT Assen Grand Prix van Nederland.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.