Binder laat SA vlag wapper op Silverstone

Moto3-ryer Brad Binder van Suid-Afrika Foto: AP Photo/Shizuo Kambayashi

Dit was só naby maar net ʼn rapsie te ver vir die 23-jarige Suid-Afrikaanse motorfietsrenjaer Brad Binder.

Binder (KTM), wat in Potchefstroom gebore is, het verlede week op die Red Bull Ring in Oostenryk sy verjaardag behoorlik gevier toe hy die Oostenrykse Moto2-wedren gewen het.

Sondag op Silverstone het hy naelskraap derde geëindig in die Britse Moto2-ren nadat hy vir ʼn paar rondtes voorgejaag het.

Die wedren is deur Augusto Fernandez (Kalex) gewen, gevolg deur Carlos Navarro (Speed Up), net 0.489 sekondes agter hom en Binder derde (0.571 sek. agter Fernandez).

Alex Marquez (181 punte), wat vir ʼn paar rondtes voor was toe hy geval het, klou steeds aan sy voorsprong op die puntelys gevolg deur Fernandez, Navarro  en Thomas Luthi (al drie met 146). Binder (125), wat aanstaande jaar in die MotoGP gaan jaag, is vyfde.

* In die MotoGP het die jong Spanjaard Alex Rins (Suzuki) meesterlik gejaag toe hy sy Spaanse landgenoot en huidige wêreldkampioen, Marc Marquez (Honda), sowat 100 meter voor die eindstreep verbygesteek het.

Hulle is gevolg deur Maverick Vinales (Yamaha), Valentino Rossi (Yamaha), Franco Morbidelli (Yamaha) en Cal Crutchlow (Honda).

Marquez (250 punte) het egter sy voorsprong op vanjaar se kampioenskappuntelys bó Andrea Dovizioso (172) van Italië tot 78 punte gerek nadat die Italianer in die eerste rondte geval het. Dovizioso het wonderbaarlik niks gebreek nie, maar hy is as ʼn voorsorgmaatreël in die Coventry-hospitaal opgeneem.

Marquez, wat in die voorste wegspringposisie weggespring het, was deurgaans voor en op koers om sy sewende sege in vanjaar se reeks te behaal.

Maar die teleurstelling was groot toe hy, net soos die vorige ren in Oostenryk toe hy deur Dovizioso verbygesteek is, om die laaste draai deur Rins aan sy binnekant verbygesteek is.

Rins, wat sy kans afgewag het, het net-net sy neus voorgekry en met 0.013 sekondes gewen.

Hy het ná sy oorwinning, die tweede vanjaar, tot die derde plek (149) op die puntelys opgeskuif.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Alan ·

Dit is wonderlik dat media ook berig lewer oor sportmanne en -vroue wat wêreldklasvertonings lewer in hul onderskeie sportsoorte. Ons is behoorlik sat van onderpresterende rugby- en krieketspelers. Daar is soveel ander talent. Binder is ‘n ware ambassadeur vir sy land. Luister gerus as daar met hom onderhoude gevoer word. Hy praat sinvol en duidelik.

Pieter, Weskaap. ·

Geagte Pieter Kruger, jy berig dat Brad Binder aan die Moto2 deelgeneem het maar die onderskrif by sy foto hierbo sê Moto3?
Nietemin, Brad is uiters talentvol en gaan dit nog ver bring in hierdie sport!

Oom Doug ·

Brad ry baie goed, hy het die regte houding en gee nie op nie, Ktm kort net ‘n bietjie meer perde
Wens hom alle beste vir volgende jaar.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.