Binder laat steeds die oë in MotoGP rek

Brad Binder (9 Augustus 2020) (Foto: Red Bull Content Pool/ANA)

Die Suid-Afrikaanse motorfietsrenjaer Brad Binder se sprokiesverhaal in MotoGP duur voort hoewel hy Sondag op die Red Bull Ring in Spielberg vierde in die Oostenrykse ren geëindig het.

Binder, wat verlede week in sy eerste jaar in MotoGP die Tsjeggiese ren teen alle verwagtinge in gewen het – dit was ook KTM se eerste oorwinning – was Sondag vierde, kort op die hakke van Andrea Dovizioso (Ducati), Joan Mir (Suzuki) en Jack Miller (Ducati).

Binder het meesterlik en koelkop gejaag, uit die moeilikheid gebly en die kommentators en ander spanne opnuut laat regop sit.

Dié jongeling van Krugersdorp het g’n bang haar op sy kop nie en het ʼn hart so groot soos ʼn leeu.

Onthou gerus dat hy 17de weggespring het en so byna-byna ʼn podiumplek ingeneem het.

Dit teen die hardebaarde van motorfietsrenne.

Die resies is met 20 rondtes oor vir 20 minute stopgesit nadat Franco Morbidelli (Yamaha) se agterwiel teen Johann Darco se Ducati teen 226 km/h in die derde draai geraak het. Albei jaers het hard geval (wonderbaarlik is niemand ernstig beseer nie), maar die wrakstukke het oor die baan gevlieg.

Maverick Vinales (Yamaha) en Valentino Rossi (Yamaha) kan hul sterre dank dat hulle nie ernstig beseer is nie, want hulle kon so maklik deur die vlieënde wrakstukke getref gewees het of deur ander jaers raakgekry word.

En wat gebeur toe?

Brad Binder (9 Augustus 2020) (Foto: AP Photo/Petr David Josek)

Ondanks die drama het Rossi en Vinales, asook die meeste van die ander jaers, die ren hervat.

Binder se KTM-spanmaat, Pol Espargaro, was voor, maar hy het hierna ook geval en kon nie voortjaag nie.

Só ook Alex Rins toe hy die voortou geneem het.

Binder het foutloos bly jaag en gaandeweg tot vierde opgeskuif waar hy geëindig het.

Binder (41 punte) is ná vier renne vierde op die puntelys met Fabio Quartararo eerste (67) gevolg deur Dovizioso (56) en Vinales.

Maar hou Binder maar dop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Adam Adriaan ·

Hierdie mannetjie gaan SA , homself en sy familie nog baie trots maak.

Dubbelloop ·

Hy is ń “flash in the pan” Wag maar net tot Marc Marcues terug is op die baan!

Blikkies ·

Nee wat Dubbeloop, ek dink jy maak ‘n fout. Onthou net hy jaag nie van nou af nie en ook nie sommer die GP nie, hy het ook maar heel onder begin en in alle klasse homself moes bewys om voor te kom, hy het ook in die laer klasse teen Marc gejaag met groot sukses. Ek dink hy is hier om te bly.

Dubbelloop ·

Gerhard, ek stem saam met jou. Ek het sommer bietjie kommentaar en reaksie uitgelok. Toe werk dit nie. Ek is baie trots op die mannetjie van ons. Hy het alles om ń kampioen te kan word. Die bike en sy bestuurspan moet dit vir hom kan doen.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.