Binder sukkel in San Marino MotoGP

Franco Morbidelli op die podium. (Foto: AP Photo/Antonio Calanni)

Die Suid-Afrikaanse motorfietsrenjaer Brad Binder het Sondag in die San Marino MotoGP op die Misano-renbaan in Italië ʼn ren beleef wat hy eerder gou sal wil vergeet.

Binder (KTM), wat 16de weggespring het, het 12de geëindig.

Die ren is deur die Italianer Franco Morbidelli (Yamaha) gewen, met Francesco Bagnaia (Ducati) tweede, Joan Mir (Suzuki) derde, Valentino Rossi (Yamaha) vierde, Alex Rins (Suzuki) vyfde en Maverick Viñales (Yamaha) sesde.

Dit was Morbidelli se eerste oorwinning in MotoGP en hy is die seisoen se vyfde wenner in ses renne.

Hy is ook die vierde groentjie wat ʼn ren vanjaar kon wen – die eerste keer sedert dit in 1949 gebeur het.

Andrea Dovizioso (76 punte) is die nuwe voorloper op die kampioenskapspuntelys nadat hy sewende geëindig het.

Hy word gevolg deur Fabio Quartararo (wat Sondag twee keer geval het en nie die ren kon voltooi nie) en Jack Miller (63 punte).

Binder (53 punte) het afgeskuif negende toe en sy spanmaat, Pol Espargaró (41 punte), na 11de posisie.

Die volgende ren word eerskomende Sondag op dieselfde baan beslis en hopelik sal Binder se KTM-span beter vaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.