Blinde krieketster het nou SA gholftitel in sy visier

Ernst Conradie. Foto: Verskaf.

Ernst Conradie het makulêre degenerasie wat tot gevolg het dat sy visie al van sewejarige ouderdom begin agteruitgaan het.

“Op 13 was my sig so swak dat ek nie meer op die bord kon sien nie. Ek het my laerskoolloopbaan by Jim Fouché in Bloemfontein voltooi, waarna ek na die Prinshof-skool vir swaksiendes in Pretoria gegaan het,” het Conradie aan Maroela Media gesê.

Hier het hy in sport uitgeblink en benewens sy talent op die atletiekbaan, het hy ook vir sy skool in swem, skaak en sokker uitgeblink. Sy vaardighede in die swembad en op die atletiekbaan het gereeld vir provinsiale kleure gesorg.

Dit is egter ná skool waar sy sportloopbaan ordentlik vlam gevat het en hy was ’n lid van die Proteas se blinde krieketspan wat die Wêreldbeker-trofee in 1998 omhoog gehou het.

“Daardie sege in Nieu-Delhi is juis my gunstelingherinnering as ’n krieketspeler. Ek het my loopbaan agter die paaltjies begin, maar vir die laaste vier jaar was ek ’n veelsydige speler gewees.”

Hy slaan binnekort saam met van die land se voorste blinde gholfspelers vir die SA Ope op die Glendower-baan in Johannesburg af.

“Ek is mal oor gholf want jy is buite in die wonderlike natuur. Verder ontmoet jy soveel nuwe mense en vriende.”

Daar is egter ’n lekker meevallertjie: Volgens Conradie is gholf die enigste sportsoort ter wêreld waar ’n siggestremde persoon teen ’n beroepspeler kan speel en moontlik met die louere kan wegstap. Spelers speel volgens hul voorgee en dit maak die speelveld meer gelyk.

“Ek het al ’n hele paar keer beter gholfdae gehad as ’n persoon wat goed kan sien,” vertel hy trots.

In aksie vir die Proteas se blinde krieketspan teen Pakistan. Foto: Verskaf.

Die 46-jarige het as blinde gholfspeler reeds die SA Ope in Milnerton gewen, terwyl hy in 2014 onder die tien topspelers in die Britse Ope geëindig het.

Tog was daar al tye waar hy mismoedig was. Maar sport was nog nooit die rede daarvoor nie.

“Ek wens net met tye dat daar meer aan ons openbare vervoerstelsel gedoen kan word om mense met gestremdhede in ag te neem. Daar is egter min wat ons daaromtrent kan doen en ons konsentreer eerder op die mooi in die lewe.”

Hy voel ook dat gestremde sporthelde en -heldinne nie soveel mediablootstelling in Suid-Afrika kry nie.

“Suid-Afrikaanse gestremde sportspanne en atlete presteer gereeld baie beter as die land se ‘normale’ sportkodes op die internasionale verhoog, maar ons sukkel met borgskappe omdat ons nie soveel mediablootstelling geniet nie.”

Tog geniet Ernst Conradie die lewe ten volle, terwyl hy nie kan wag om ’n gholfbal te slaan of om ’n krieketbal te keer nie.

“Ek wil eendag as ’n sportman onthou word wat gehelp het om siggestremde sport in Suid-Afrika te bevorder.”

  • Volgens Conradie is Garrett Slattery, ’n lid van Stellenbosch Gholfklub, Suid-Afrika se voorste speler en een van die gunstelinge om die Ope te wen. Die aksie begin op 6 Desember in Johannesburg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.