Boks: Joshua verloor sy wêreldtitel

Oleksandr Usyk (links) is die nuwe swaargewig-wêreldkampioen. (Foto: Adrian DENNIS/AFP)

Boks het ʼn nuwe swaargewig-wêreldkampioen nadat Oleksandr Usyk van die Oekraïne vir Anthony Joshua oortuigend met punte geklop het. En dít boonop voor Joshua se tuisskare in Londen.

Die uitslag steek nou ʼn stok in die wiel van planne vir die sogenaamde “Battle of Britain” tussen Joshua en Tyson Fury, die Wêreldboksraad se kampioen.

Usyk, die beste junior swaargewig in die wêreld voordat hy in 2019 na die swaargewig-afdeling opgeskuif het, was indrukwekkend.

Op die drie telkaarte het hy oorheers in net sy derde geveg in sy nuwe afdeling. Die tellings was 117-112, 116-112 en 115-113 in sy guns. Hy is net die derde bokser, naas Evander Holyfield en David Haye, wat die junior swaargewig- én swaargewigtitels gewen het.

Usyk het ook die goue medalje by die Olimpiese Spele in 2012 in Londen gewen. Joshua was by dieselfde spele die super-swaargewigkampioen.

Usyk het nou ook al 19 sy beroepsgevegte gewen.

Die 34-jarige Usyk is drie jaar ouer as Joshua. Hy is nie net 9 kg ligter as Joshua nie, maar ook 8 cm korter. Vorige teenstanders van Usyk het Joshua voor die geveg gewaarsku om hom nie te onderskat nie.

Dit lyk ook soos ʼn uitgemaakte saak dat die twee mekaar weer sal pak, want ʼn ooreenkoms maak voorsiening daarvoor. Joshua het voorheen sy titel teen Andy Ruiz in 2019 in New York verloor, maar dit weer ses maande later teruggewen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.