Boks: Muhammad Ali se kleinseun steeds onoorwonne

Reyes Sanchez (rooi broek) en Nico Ali Walsh by Madison Square Garden (11 Desember 2021) (Foto: Sarah Stier/Getty Images North America/Getty Images via AFP)

Bokslegende Muhammad Ali se kleinseun, die 21-jarige Nico Ali Walsh, is steeds onoorwonne nadat hy vier maande gelede die beroepskryt betree het.

Ali Walsh het gister sy geveg in die middelgewig-afdeling in Madison Square Garden in New York naelskraap met punte gewen teen die onoorwonne Reyes Sanchez. Twee van die drie beoordelaars het in sy guns beslis en die derde het die geveg gelykop gehad.

Ali Walsh was in die wolke oor die oorwinning in die ikoniese arena. Dis waar sy oupa in Maart 1971 teen Joe Frazier geboks het vir die swaargewig-kampioenskap.

“Dis ongelooflik. Hierdie plek is deel van die geskiedenis. Net om hier te wees, en dan nog hier te boks ook, is ʼn groot eer.”

Ali Walsh het teen Jordan Weeks met ʼn tegniese uitklophou gewen in sy eerste beroepsgeveg in Augustus in Tulsa, Oklahoma. Twee maande later was hy weer met ʼn tegniese uitklophou aan die wenkant teen James Westley in Atlanta.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.