Boks: SA se Lerena stoomroller voort

Kevin Lerena Foto: Facebook

Die Gautengse juniorswaargewigbokser, Kevin Lerena, het gisteraand (Saterdag) sy IBO-titel suksesvol teen Firat Arslan in Duitsland verdedig.

Die 27-jarige Lerena het soos ’n vetgesmeerde blits teen die veel ouer bokser weggetrek en sommer vroeg in die geveg reeds sy stempel afgedruk. Hy het met ’n paar goed berekende houe die Duitser op die agtervoet gedwing en hom daar gehou.

Hy het in die vyfde ronde ’n stewige linkerhou ingekry en kort daarna het die skeidsregter beslis dat Arslan genoeg gehad het en die geveg is stopgesit. Hoewel die 49-jarige Duitser kwaai oor dié beslissing gekla het, was hy gedurig op die verdediging en kon kwalik ’n hou van sy eie geplant kry.

Dit is Lerena se 14de agtereenvolgende oorwinning – sy enigste nederlaag was in 2014 teen sy landgenoot Johnny Muller.

Gisteraand se wen teen Arslan, ’n voormalige WBO-kampioen, sal onder die grootste van sy loopbaan tel. Snaaks genoeg het hy vooraf voorspel hoe dié geveg kan eindig.

“Ek voel werklik goed. Dit gaan ’n taai stryd teen Firat wees en hy veg teen ’n kwaai tempo, maar ek is gereed vir hom. Ek voorspel dat die geveg stopgesit sal word,” het Lerena vroeër die week in die media gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.