Boksheld vind perfekte balans

Deur Riaan Hofmeyr

Edmund Taljaard, Cowin Ray en Sebastian Rothman. Foto: Riaan Hofmeyr.

Sebastian Rothman, die voormalige Suid-Afrikaanse en internasionale junior swaargewigbokskampioen, help nou ook buite die kryt om die sport aan die gang te hou.

As eienaar van Seb’s Elite Boxing Gym in Pretoria sorg hy nie net dat Suid-Afrikaners deur middel van boksklasse aan die sport blootgestel word nie, maar help hy ook professionele boksers om hul vaardighede te slyp.

Rothman sê dat die pilare waarop sy gimnasium rus – professioneel en publiek – heeltemal uiteenlopend is, afgesien van sekere oefeninge wat dalk ooreenstem.

Die fiksheid en gereedheid van sy professionele boksers is aan die een kant die eindproduk, waar die klub en sy geriewe by “gewone” boksgeesdriftiges die eindproduk is.

Fiksheid bly egter die hoofdoel, maar wanneer Jan Alleman in die kryt klim, speel die pretfaktor ook ’n belangrike rol in die fikswordproses.

Wanneer oor professionele boksers gepraat word, sê Rothman dat hy nou selfs meer spanning ervaar as in sy eie loopbaan. Toe hy self die bokshandskoene aangetrek het, was hy in beheer van sy eie lot, maar nou kan hy net ’n bokser na die beste van sy vermoë vir ’n geveg voorberei; daarna moet die bokser self sy eie stempel afdruk.

Daar rus egter steeds baie op sy skouers.

“As jy die handdoek een sekonde te vroeg ingooi, kry die bokser se loopbaan dalk ’n knou, maar wanneer jy dit te laat doen, kan sy lewe op die spel wees,” verduidelik Rothman.

’n Paar jaar gelede was ’n topbokser soos Brian Mitchell gereeld in die kollig en Rothman meen dat plaaslike boks weer sy amateurstruktuur in orde moet kry, terwyl die media ook gerus ’n bietjie meer aandag aan die sportsoort kan gee.

Van die boksers wat by hom oefen, is opkomende sterre soos Talent Baloyi, Jabulani en Cowin Ray.

Die 26-jarige Ray is die supermiddelgewigkampioen en hy boks al vir 13 jaar. Hy is tans na sewe gevegte onoorwonne; vyf van sy oorwinnings is aan ’n uitklophou te danke.

Hy oefen tot vier uur per dag en hy beskou Rothman as ’n rolmodel.

“Hy maak altyd tyd vir my en hy het my al deur ’n baie moeilike tyd in my lewe gehelp. Ek het net goeie woorde oor hom te sê,” sê Ray.

Hy stem met sy afrigter saam dat daar nie genoeg aandag aan die land se bokskampioene geskenk word nie – daar is immers nasionale titelhouers van wie bitter min Suid-Afrikaners al gehoor het.

Sodra aandag daaraan gegee word, kan die pad na internasionale en Olimpiese glorie net soveel makliker vir plaaslike boksers wees.

Edmund Taljaard is ’n hulpafrigter wat ook in die boksers se hoek tydens gevegte is. Hy is vol lof vir die wyse waarop Rothman die boksers vir ’n geveg gereed kry.

“Hy gee noukeurige aandag aan al sy vegters – nie net wat opleiding betref nie, maar ook met beplanningswerk. Dit is lekker om saam met hom te werk; hy is altyd bereid om na nuwe idees te luister en moderne afrigterstegnieke toe te pas,” voeg Taljaard by.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

OW ·

Na mening een van die redes waarom boks nie meer soveel aandag kry nie is dat daar vandag te veel wêreld organisasies is,wat wêreld kampioene het.Toe bv Muhammed Ali en George Foreman geboks het was daar net die WBA en WBC.Deesdae is daar iets soos 5 of 6 sulke organisasies.Boks in SA kan gerus meer media dekking kry,hetsy amateur en beroepsboks.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.