Boorling van Johannesburg wen in Kalifornië

Cameron Norrie spog met sy trofee. Foto: Clive Brunskill/Getty Images/AFP.

Cameron Norrie het vandag die eerste Britse manspeler geword om met die louere in die Indian Wells-toernooi in Kalifornië weg te stap.

Die 26-jarige speler wat in Johannesburg gebore is, het vir Nikoloz Basilashvili met 3-6, 6-4 en 6-1 in die eindstryd geklop. In die aanloop tot die eindstryd het hy met onder andere met Grigor Dimitrov, Tennys Sandgren en Diego Schwartzman afgereken.

“As jy vóór die aanvang van die toernooi vir my gesê het dat ek uiteindelik die silwerware omhoog sou hou, sou ek jou beslis nie geglo het nie. Hierdie titel beteken ongelooflik baie vir my; dit is die grootste oorwinning van my loopbaan,” het Norrie gesê.

Nadat die Brit die eerste stel verloor het en deur ’n agterstand van 2-1 in die daaropvolgende stel in die gesig gestaar is, het hy stelselmatig die oorhand begin kry.

“Ek is baie tevrede met my spel die afgelope ruk en ek geniet dit om deel van die aksie by groot toernooie te wees. Ek is baie tevrede met die wyse waarop ek alles hanteer het – ek het in die verlede baie eindstryde verloor en dit is lekker om vir ’n slag een te wen.”

Die Brit het vanjaar in ses eindstryde gespeel.

Sy sukses volg kort op die hakke van nóg ’n Brit – die jong Emma Raducanu – se triomf in die Amerikaanse Ope.

Norrie was drie jaar oud toe sy ouers na Nieu-Seeland verhuis het. Hy was die no. 1‑universiteitspeler in die VSA toe hy aan die Universiteit van Texas studeer het. Hy speel sedert 2013 vir Brittanje.

Volgens die jongste ATP-ranglys is hy tans die 15de beste speler ter wêreld.

  • ATP-ranglys:
  1. Novak Djokovic
  2. Daniil Medvedev
  3. Stefanos Tsitsipas
  4. Alexander Zverev
  5. Rafael Nadal
  6. Andrey Rublev
  7. Matteo Berrettini
  8. Dominic Thiem
  9. Casper Ruud
  10. Hubert Hurkacz

Ander spelers: Cameron Norrie (15), Lloyd Harris (32) en Kevin Anderson (59).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.