Boris dink Novak kan onder druk vou

Novak Djokovic (Foto: Wimbledon, Twitter)

Novak Djokovic speel later vandag in die 50ste Grand Slam-kwarteindstryd van sy loopbaan wanneer hy Marton Fucsovics op Wimbledon se grasbane die stryd aansê.

Die 34-jarige Serwiër jaag nie net sy 20ste Grand Slam-titel nie, maar hy is ook op koers om sy derde groot trofee van die jaar (die Australiese en Franse Ope is reeds in die sakkie) omhoog te hou; die pen om die geskiedboeke te herskryf is ongetwyfeld binne sy bereik.

Maar, sê sy vorige afrigter Boris Becker, dit is nie ’n uitgemaakte saak dat Djokovic met die louere op Wimbledon gaan wegstap nie.

“Die aanslag van die oorblywende spelers moenie gering geskat word nie en die druk om die geskiedenisboeke te herskryf kan ook teen Novak tel. Hoe nader hy aan ’n moontlike 20ste Grand Slam-titel kom, hoe kwaaier gaan die druk op hom wees,” het die Duitser gesê.

Tog speel Djokovic al vir jare tennis en hy het al baie wedstryde gewen: Hy weet waaraan hy homself moet steur en wat hy liefs moet ignoreer.

“Dit is geen geheim dat ek probeer om soveel as moontlik Grand Slams te wen nie,” het die Serwiër gesê.

“Maar as ek aandag aan almal se voorspellings gee, sal dit my ongetwyfeld ontspoor van my uiteindelike doel – om een ding op ’n slag te hanteer en na die beste van my vermoë vir ’n toernooi se uitkloprondes voor te berei.”

Volgens Fucsovics, wat met die gevaarlike Andrey Rublev afgereken het om sy kwarteindstryd-ontmoeting teen Djokovic te bespreek, waai enige strategie by die stadionvenster uit wanneer jy teen ’n speler van die Serwiër se kaliber te staan kom.

“Ek gaan net die wedstryd geniet en vir elke liewe punt baklei; dit is die heel belangrikste vir my. Dit is die eerste keer wat ek in die kwarteindstryd van ’n Grand Slam-toernooi speel en ek wil my beste gee,” het die Hongaarse speler gesê.

Die wedstryd begin vandag om 14:30 en sal regstreeks op SuperSport uitgesaai word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
Jack Russ1

En daar wen hy toe sommer in skoon stelle vandag

anniekiewiet

Mooi gespeel. Baie geluk! Mag jy ook, Fucsovics, eendag daai trofee so omhoog hou.