Bottas: ‘Daar is klein verskille’

Lewis Hamilton en Valtteri Bottas. (Bryn Lennon/AP).

Daar is Valtteri Bottas se Mercedes-renmotor. En dan is daar Lewis Hamilton se Mercedes-renmotor.

Die vlieënde Fin moes hom noodgedwonge aan die afgelope Katarese Grand Prix onttrek nadat hy probleme met een van sy voorbande ondervind het, terwyl Hamilton sonder veel moeite nóg ’n eerste plek ingeoes het.

Bottas het nou in die Finse media gesê dat daar ’n verskil in die manier is waarop die twee Mercedes-renmotors opgestel is.

“Ek het intussen die rede (vir die band-probleme) uitgevind, maar ek mag nie enige inligting verskaf nie. Maar my motor is nie meer heeltemal dieselfde as wat dit was nie, terwyl dit ook nie dieselfde as Lewis s’n is nie. Daar is klein verskille tussen die twee motors,” het Bottas gesê.

Hamilton se nuwe enjin beteken dat hy deesdae nie juis vir iets hoef te skrik nie.

In São Paulo was die verdedigende wêreldkampioen met ’n paar plekke op die wegspringrooster gestraf, maar sy vuurwarm enjin beteken dat hy hom nie veel daaraan gesteur het nie en hy het sy pad van tiende na eerste oopgeveg.

Volgens die wedrendata was sy Mercedes amper 20 km/h vinniger as Max Verstappen in sy Red Bull.

Toto Wolff het intussen ook gewaarsku dat Hamilton sy Brasilië-enjin vir die twee oorblywende wedrenne sal inspan.

“Ons het dit nog altyd in Saoedi-Arabië geniet. Die pylvak is lekker lank en ons sal ons vurige toerusting daar inspan,” het Wolff in ’n onderhoud met Sky F1 gesê.

Hamilton het al vantevore vir Bottas as ’n ongelooflike spanmaat bestempel en gesê dat hy hom graag by Mercedes wou gehou het omdat hulle goed saamwerk.

Maar ten spyte van Hamilton se lof sluk die vurige Fin by tye waarskynlik swaar aan die Brit se voorkeurbehandeling.

Tydens vanjaar se Franse Grand Prix het Bottas se frustrasie oorgekook toe sy span nie na sy versoek geluister het om die kuipe twee keer te besoek nie.

“Waarom luister niemand na my wanneer ek sê dit gaan ’n tweestop-resies wees nie?” het hy kwaai oor die radio gevra.

Dan was hy ook warm onder die kraag oor Mercedes se besluit om in swart deel te neem; alles in ’n poging om rassisme te beveg en om ’n meer diverse span op die been te bring.

Bottas, wat een van die fiksste F1-renjaers is, het egter gekla dat die nuwe renpakke hopeloos te warm is.

“Hierdie swart renpakke is deksels warm! Dit is normaalweg baie warm in die motor, maar nou is dit erger as ooit tevore,” het hy verlede jaar gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

7 Kommentare

jongste oudste gewildste
Moedeloos

Lyk my Hamilton word op n troontjie geplaas en behoede jou as jy aan daai troontjie vat.

piet

Nee wat ou maat. Selfde toerusting, Hamilton net ‘n baie beter jaer

Jackie

Ek glo nie die hamster se motor is wettig nie…Beslis ook nie dieselfde as bottas sn nie. Wolf en mercedes is besig on te cheat.

Boer

Daar is bewys dat dit die kar is en nie Hamilton nie. Hy word maar voorgetrek By Mercedes. Laat Valtteri in sy kar klim dan sien jy n ander ding.