Bottas: ‘Ek glo ek is beter as Hamilton’

Valtteri Bottas. (Yuri Kochetkov, Pool Photo via AP)

Die vlieënde Fin, Valtteri Bottas, het weliswaar die Oostenrykse Grand Prix gewen, maar sedertdien is dit eenrigtingverkeer soos Lewis Hamilton die een wedren na die ander wen.

Die 35-jarige Brit het pas Michael Schumacher se rekord vir die meeste loopbaanseges geëwenaar, terwyl hy tans 69 meer punte as Bottas op punteleer het.

Tog glo die Fin dat hy nie net met die bestes kan saamgesels nie, maar dat hy sommer ook vir hulle ’n ding of twee kan wys.

“Ek glo dat wanneer ek op my beste is, ek beter as Lewis kan vertoon. Daar is natuurlik dae waar hy ongetwyfeld beter bestuur en in die laaste paar jaar waar ek sy spanmaat was, het hy beslis die oorhand gehad,” het Bottas gesê.

Hamilton se politieke oortuigings oorskadu egter soms sy prestasies op die renbaan, terwyl Bottas se aandag nie sommer afgetrek word nie.

“Ek doen nie die politieke ding nie; ek is net mal daaroor om aan wedrenne deel te neem. Ek hou van taai, maar regverdige aksie op die baan en dit is ook hoe ek elke wedren wil aanpak.”

(xpbimages.com/Pool via AP)

Mercedes het in Junie aangekondig dat hulle in swart renmotors vir die komende F1-seisoen sal jaag in ’n poging om rassisme te beveg, terwyl daar ook gepoog word om ’n meer diverse span op die been te bring.

Hamilton, die eerste swart F1-kampioen, het saam met Bottas in swart renpakke gejaag en hy het ook met die ontwerp van die nuwe Mercedes gehelp.

Bottas was egter ná ’n paar wedrenne minder ingenome met die swart renpakke.

“Ek het drie kilogram gedurende die wedren verloor en dit kan bepaald ’n invloed op jou vertoning hê. Dit is ’n feit dat swart baie warmer is, veral in direkte sonlig.

“Ek is een van die fiksste ouens hier en ek is gewoond aan baie dinge. Dit is egter nooit gemaklik nie, maar daar is dinge wat ons kan verbeter.”

F1-puntestand (renjaers):

  1. Lewis Hamilton 230 punte
  2. Valtteri Bottas 161 punte
  3. Max Verstappen 147 punte

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Annakapat ·

Julle drywers puntestand is foutief – Hamilton staan tans op 230, Bottas wel op 161 en Verstappen se punte is ook verkeerd.

Megan Swart ·

Dagsê Annakapat
Ons vra om verskoning vir die oorsig. Die artikel is reeds gewysig.
Dankie! Groetnis
Megan
nms Maroela Media

Jakes ·

Ek stem Bottas, jy is n beter jaer as Hamilton en jy is nie die enigste nie.

Ratel ·

As Bottas reken hy is beter as Hamilton hoekom die punte agterstand? In elke liewe seisoen vanaf 2013 to op hede het Hamilton vir Bottas ver geklop. So watter gronde is daar vir die stelling dat Bottas beter is? Ek leer graag.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.