Bottas het nie Mercedes-bevel verontagsaam

Valtteri Bottas. Foto: David W. Cerny/AFP.

Nee, sê Valtteri Bottas, hy het nie ’n Mercedes-bevel verontagsaam toe hy laat in die Nederlandse Grand Prix vir die vinnigste rondetyd op die Zandvoort-baan verantwoordelik was nie.

Die Finse renjaer moes in die 67ste ronde die kuipe glo as ’n “voorsorgmaatreël” besoek, maar gewapen met ’n stel nuwe bande het hy soos ’n vetgesmeerde blits weggetrek.

Hy was só vinnig dat hy goed op koers was om die bonuspunt vir die vinnigste rondetyd by Lewis Hamilton af te rokkel en die Mercedes-spanbase het hom oor die radio beveel om sy poging asseblief te staak.

Bottas het daarna inderdaad stadiger gery, maar hy was steeds vinniger as sy spanmaat. Hamilton het egter die bonuspunt in sy laaste ronde teruggewen nadat hy ook die kuipe besoek het.

“Ek het eintlik maar net ’n bietjie rondgespeel. Lewis het beslis daardie ekstra punt meer as ek nodig; hy veg immers vir die Wêreldtitel,” het die vlieënde Fin ná die wedren gesê.

Lewis Hamilton en Bottas. (Bryn Lennon/AP).

Op sy beurt meen Hamilton dat hy oukei daarmee sou gewees het as Bottas die bonuspunt gekry het; dit gaan immers oor die span en nie die individu nie.

Volgens gerugte het die jong George Russell reeds sy kontrak met Mercedes onderteken, wat beteken dat die 32-jarige Bottas volgende jaar agter die stuur van ’n Alfa Romeo kan wees.

Tog het Hamilton al vantevore vir Bottas as ’n ongelooflike spanmaat bestempel en gesê dat hy hom graag by Mercedes sal wil hou omdat hulle goed saamwerk.

Maar ten spyte van Hamilton se lof sluk die vurige Fin by tye waarskynlik swaar aan die Brit se voorkeurbehandeling.

Tydens vanjaar se Franse Grand Prix het Bottas se frustrasie oorgekook toe sy span nie na sy versoek geluister het om die kuipe twee keer te besoek nie.

“Waarom luister niemand na my wanneer ek sê dit gaan ’n tweestop-resies wees nie?” het hy kwaai oor die radio gevra.

Dan was hy ook warm onder die kraag oor Mercedes se besluit om in swart deel te neem; alles in ’n poging om rassisme te beveg en om ’n meer diverse span op die been te bring.

Bottas, wat een van die fiksste F1-renjaers is, het egter gekla dat die nuwe renpakke hopeloos te warm is.

“Hierdie swart renpakke is deksels warm! Dit is normaalweg baie warm in die motor, maar nou is dit erger as ooit tevore,” het hy verlede jaar gesê.

“Ek het drie kilogram gedurende ’n wedren verloor en dit kan bepaald ’n invloed op jou vertoning hê.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Alta Alleman

Jammer Bottas dat jy altyd tweede viool moes speel.