Bottas se Mercedes-uurglas glo amper leeg

(xpbimages.com/Pool via AP)

Volgens Mark Webber, die voormalige Australiese F1-ster, is dit bloot net ’n kwessie van tyd voordat George Russell vir Valtteri Bottas uit sy Mercedes-stoel lig.

Die Fin is tans vyfde op die bestuurderspunteleer en Russell 17de, maar die 23-jarige Brit is ongetwyfeld een van die talentvolste renjaers en Mercedes gooi lank reeds sy flikkers vir hom.

Indien Bottas nie sou besluit om sy valhelm aan die einde van die seisoen vir oulaas weg te pak nie, kan ’n eenvoudige ruilonderhandeling op F1-ondersteuners wag: Russell na Mercedes en Bottas na Williams.

En met Williams wat na alle verwagting ook in 2022 sal sukkel, het Weber gewonder of Bottas dan nog oor die nodige dryfkrag sal beskik om in ’n swakker motor aan te ploeter.

“Dit sal ’n reuseskok vir hom wees; veral nadat hy gereeld vir ’n plek op die podium gejaag het. Die moontlikheid bestaan dat ander bestuurders hom sal verbysteek,” het Weber gesê.

Bottas het weliswaar in die laaste wedren in Oostenryk verby Hamilton gejaag om tweede te eindig, maar sy frustrasie het by die Franse Grand Prix oorgekook toe sy span nie na sy versoek geluister het om twee keer die kuipe te besoek nie.

“Waarom luister niemand na my wanneer ek sê dit gaan ’n tweestop-resies wees nie?” het ’n vloekende Bottas kwaai oor die radio gevra.

Foto: Nicolas Tucat/AFP.

Die vlieënde Fin was veral vies omdat hy vierde geëindig het nadat ’n podiumplek vir hom gewink het. Deur Bottas se versoek te ignoreer is punte op die kampioenskapranglys weggesmyt; ’n strategie wat deur sommiges as verregaande bestempel is.

Tog was die Mercedes-spanhoof, Toto Wolff, in sy noppies met Bottas se tirade.

“Ek is mal daaroor dat hy nou sê wat hom pla en dinge nie vir homself hou nie,” het Wolff gesê.

Intussen het Lewis Hamilton vir Bottas as sy beste spanmaat ooit bestempel.

“Ek het nog altyd gesê dat hy ’n ongelooflike spanmaat is. As ek eerlik moet wees, glo ek dat ons tans die beste kombinasie is om dinge vorentoe by Mercedes te neem. Maar dit gaan nie vir altyd dieselfde bly nie,” het Hamilton gesê.

Op sy beurt het Bottas ’n foto van sy Mercedes-renmotor met ’n gepaardgaande “It’s race weekend”-byskrif op sosiale media gelaai.

Hy het egter al vantevore gesê hy glo hy is ’n beter bestuurder as Hamilton.

“Ek glo dat ek beter as Lewis kan vertoon wanneer ek op my beste is. Daar is natuurlik dae wanneer hy ongetwyfeld beter bestuur en in die afgelope paar jaar dat ek sy spanmaat is, het hy beslis die oorhand gehad,” het Bottas gesê.

Hamilton se politieke oortuigings oorskadu egter soms sy prestasies op die renbaan, terwyl Bottas se aandag nie sommer afgetrek word nie.

“Ek doen nie die politieke ding nie; ek is net mal daaroor om aan wedrenne deel te neem. Ek hou van taai maar regverdige aksie op die baan en dit is ook hoe ek elke wedren wil aanpak.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.