Bottas span die kroon vir Mercedes

Valtteri Bottas vier sy oorwinning. Foto: (AP Photo/Toru Takahashi)

Die Mercedes-renspan het nog ʼn rekord van Ferrari uit die rekordboeke gevee toe Valtteri Bottas Sondag in Suzuka eerste geëindig in die Japanse Formule Een Grand Prix met sy spanmaat, Lewis Hamilton, derde.

Bottas het in 1:23:21.510 gewen met Sebastian Vettel (Ferrari) tweede, 11.376 sekondes agter hom.

Hamilton, wat maar bra bekaf voorgekom het oor Mercedes se strategie om sy bande net een keer om te ruil, was in Vettel se truspieëltjie, gevolg deur Alexander Albon (Red Bull), Carlos Sainz (McLaren) en Charles Leclerc (Ferrari).

Met hul eerste en derde plekke het Mercedes genoeg punte ingesamel om vanjaar se vervaardigerstitel te beklink met nog vier renne oor.

Mercedes het tot dusver vanjaar heeltemal oorheers en reeds 12 seges behaal, met Ferrari (3) en Red Bull (2) die enigste ander spanne wat in Mercedes se pad kon staan.

Sewentien Grand Prix-renne en net drie spanne wat die pyp kon rook?

Dit is Mercedes se sesde agtereenvolgende titel sedert 2014 en verbeter op Ferrari se vorige beste van vyf opeenvolgende vervaardigerstitels wat die span tussen 2000 en 2004 gewen het.

Lewis Hamilton. Foto: (AP Photo/Toru Hanai)

Dit was Bottas se derde oorwinning vanjaar nadat hy die eerste ren in Australië en die vierde in Azerbeidjan gewen het. Maar hy moes ses maande wag voordat hy sy sesde loopbaanoorwinning kon behaal, ondanks sy bestuursvernuf.

Bottas het kort ná die wegspring vir Vettel, wat in die voorste posisie weggespring het, verbygesteek en het nooit weer teruggekyk nie.

Die ander hoogtepunte was die ongelooflike vermoë en werkywer van die Japanse beamptes om die baan binne ʼn paar uur slaggereed te kry ondanks die verwoesting wat tifoon Hagibis gesaai het. As ʼn mens nie daarvan bewus was nie, sou jy dit nooit eens kon raai nie, so doeltreffend was die Japanners.

Dan was Albon se vierde plek sy beste nog; Sainz het die derde keer vanjaar vyfde geëindig en Daniel Ricciardo (Renault) het sewende geëindig nadat hy in die 16de plek weggespring het.

Hamilton (338), wat ʼn bonuspunt vir die vinnigste rondtetyd verower het, is 64 punte voor Bottas (274), en sal na alle waarskynlikheid die titel in die volgende ren in Mexiko agter sy naam kan skryf.

Leclerc (223) is derde, gevolg deur Max Verstappen (Red Bull) en Vettel (albei 212).

* Verstappen en Leclerc, wat in die eerste rondte liggies gebots het, het ná die ren voor beamptes verskyn, maar die uitslag was nog nie bekend nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

koos ·

En ek is nou meer as ooit oortuig dat Ferrari anders behandel word as die res van die spanne wat die reëls en geld uitdeel betref.

Poot ·

Eks ñ groot Ferrari ondersteuner. Maar raak asb van Leclerc ontslae. Hys te groot vir sy skoene en is soos ñ gr1 seunjie wat sy speelgoed uit sy kot gooi as hy nie sy sin kry nie.

Uitkyk ·

Pieter, die artikel is puik. Waarmee ek veral getref is, is die noem van die Japanners se werk aan die F1 baan. Herinner my hoe SA was, hard werkend, skoon, dinge reg op tyd. Hulle het nog integriteit. Lief F1!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.