Brad Binder se boetie maak ook ren-geskiedenis

Moto3-renjaer Darryn Binder van Suid-Afrika vier fees op die podium by die Katalaanse Grand Prix in Spanje (27 September 2020) (Foto: AP Photo/Joan Monfort)

Wat Brad kan doen, kan ek ook doen.

Dit is na alle waarskynlik wat Darryn Binder, jonger broer van Brad Binder, Sondag in Barcelona tydens die Moto3-ren van die Katalaanse Grand Prix gedink het.

Darryn Binder (22) het sy eerste oorwinning in sy 94ste ren behaal nadat die twee groot aanspraakmakers, John McPhee en Albert Arenas, gebots het.

Hy het in die laaste ronde sy staal behoorlik getoon toe hy Dennis Goggia verbygesteek het om die geruite vlag te ontvang. Wees maar verseker dat daar in die Binder-huishouding in Krugersdorp hard gejuig is.

Maar in die MotoGP het sake nie so voorspoedig vir Brad (KTM) verloop nie toe die Fransman Fabio Quartararo (Yamaha) sy derde ren van die jaar gewen het om weer die voortou op die kampioenskapspunteleer te neem. Dit was Quartararo se eerste oorwinning ná sy twee seges in Jerez in Julie. Hy is gevolg deur Joan Mir en Alex Rins (albei Suzuki).

Mir en Rins het albei vir Franco Morbidelli kort voor die einde verbygesteek.

Andrea Dovizioso, wat ‘n punt voor Quartararo op die kampioenskapspunteleer was, het reeds in die eerste draai van die openingsronde geval en sy drome was daarmee heen.

Quartararo het nou 108 punte en word gevolg deur Joan Mir (100 en Maverick Vinales (90).

Binder spog met 58 punte en is tiende nadat hy vanjaar sy eerste oorwinning in sy debuutjaer, in die Tsjeggiese MotoGP, behaal het.

Ja, dalk het sake die afgelope ruk nie so voorspoedig vir Brad verloop nie, maar niks kan die twee broers se seges teen die wêreld se motorfietsjaers wegneem nie. Dit wil gedoen wees!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Ruan ·

Met alle resek gesê hou ek nie van die titel nie. Dis Darryn Binder. Sê eerder Darryn Binder maak ook geskiedenis. Gee sy naam die eer wat hy verdien vir die prag wedren. In die eerste paragraaf kan jy dan noem dis Brad se broer. Wel gedaan

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.