Brad Binder se nagmerrie-ren in Spanje

Brad Binder. Foto: KTM

Dit was veronderstel om Sondag in Jerez, Spanje, ʼn rooiletterdag in die loopbaan van Suid-Afrika se beste motorfietsjaer Brand Binder te wees,  maar nou is dit een wat hy beslis nie lank sal wil onthou nie.

Binder (KTM), wat in die negende wegspringposisie was, se nagmerrie in die Andalusiese MotoGP het kort na die wegspring in die eerste draai begin toe hy en die Portugese jaer Miguel Oliveira (Tech3) ­– ­ hulle gaan terloops aanstaande jaar spanmaats wees ­– gebots het. Oliveira het beheer oor sy fiets verloor, hard geval en Binder het per ongeluk oor hom gery.

Binder het later in die GP ook geval, bo-oor sy fiets gerol waarna hy ook deur sy KTM getref is. ʼn Kruppel en moedelose Binder het opgestaan en kuipe toe geloop.

Die ren is deur die Fransman Fabio Quartararo in 44:22.666 gewen, met sy twee Yamaha-spanmaats, Maverick Viñales van Spanje en die Italianer Valentino Rossi, onderskeidelik tweede en derde.

Dit was die eerste keer sedert die MotoGP by Phillip Island in 2014 dat Yamaha die drie podiumplekke gevul het. Dit was ook die eerste keer sedert die Americas-ren in 2019 dat Rossi weer op die podium kon staan.

Quartararo was ook in verlede week se ren eerste.

* Vroeër het die Italtrans-span se Enea Bastianini die eerste keer in twee jaar weer die podium bestyg toe hy die Moto2 gewen het. Hy is deur nog twee Italianers, Luca Marini en Marco Bezzecchi (albei Sky Racing), gevolg. Dit was die eerste keer sedert die Imola Grand Prix in 1996 dat drie Italianers die eerste drie plekke gevul het.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.