Brad Binder uiteindelik in MotoGP

Brad Binder. Foto: Verskaf.

KTM het gister aangekondig dat Suid-Afrika se Brad Binder dié vervaardiger volgende jaar sal verteenwoordig in die premier klas van die MotoGP-kampioenskap. Binder sal aansluit by sy voormalige Moto2-spanmaat, Miguel Oliveira, wat al sedert die begin van 2019 deel is van die Red Bull KTM Tech3-span.

Binder het in 2011 aan sy eerste wedren in Moto3 deelgeneem. Hy het sy eerste Moto3-trofee in 2014 ontvang – dit was by die Duitse Grand Prix toe hy nog vir Mahindra gejaag het. KTM het sy potensiaal raakgesien en met hom ’n kontrak gesluit vir die 2015-seisoen. In 2016 het hy sy eerste oorwinning in Spanje behaal nadat hy heel laaste weggespring het. Nog ses seges later is hy gekroon as die Moto3-wêreldkampioen vir 2016.

In 2017 het Binder opgeskuif na die Moto2-klas. Hier het hy ook op ’n KTM meegeding en het tot op hede drie oorwinnings en agt podiumplekke behaal. Dit was ’n moeilike aanpassing vir Binder, maar danksy sy konsekwente resultate het hy die 2018-seisoen in die algehele derde plek op die punteleer geëindig.

Die 23-jarige Binder sal die eerste Suid-Afrikaner in die MotoGP-klas wees sedert Kork Ballington, Jon Ekerold en Bret Hudson deelgeneem het in die laat-80’s. Binder sluit aan by die Red Bull KTM Tech3-span wat nou in hul tweede seisoen met KTM saamwerk.

Binder se drome het waar geword. Nou gaan hy uiteindelik die kans kry om sy staal te wys teen die bestes ter wêreld. Pit Beier, KTM se motorsportdirekteur, voel dat Binder goed sal pas in die span en hy glo dat Binder se insette van onskatbare waarde sal wees vir KTM.

Ons wens vir Brad Binder net die beste toe. Ek het hom al ontmoet en ’n meer plat op die aarde mens gaan hy moeilik kry in MotoGP-kringe. Hervé Poncharal, Red Bull KTM Tech3 se spanbestuurder, glo dat Binder goed sal doen in MotoGP. Kom ons glo hy is reg!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Oom Doug ·

Hy het die regte houding om te wen, dis in sy bloed.
Ek wens hom alle beste.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.