Bravo, Carlos!

Ferrari se Carlos Sainz. Foto: Justin Tallis/AFP.

Wat ’n wedren!

In sy 150ste wedren het Ferrari se Carlos Sainz vir die eerste keer in sy loopbaan met die louere weggejaag toe hy ’n aksiebelaaide Britse Grand Prix op Silverstone gewen het.

Red Bull se Sergio Perez was tweede, gevolg deur Lewis Hamilton in sy Mercedes.

Dit was egter ’n minder goeie dag vir Max Verstappen nadat hy die vloergedeelte van sy vuurwa beskadig het; iets wat ’n groot invloed op die motor se spoed het en hy moes met ’n sewende plek tevrede wees.

Dan het die wedren skaars begin of die rooi vlag was reeds geswaai ná ’n ernstige botsing tussen George Russell in sy Mercedes en Alfa Romeo se Zhou Guanyu.

Die Chinese renjaer se motor het gerol, oor ’n versperring gevlieg en ’n hele ent weg van die baan op sy sy tot stilstand gekom.

Mediese personeel was gou op die toneel en Guanyu het gelukkig ernstige beserings vrygespring.

Maar die dag behoort beslis aan Sainz wat deur opgewonde krete van “bravo!” en “vamos!” begroet is toe hy oor die wenstreep gejaag het.

Ondanks al die ongelukdrama moes hy ook die vasberade aanslae van Hamilton en Perez afweer nadat ’n veiligheidsmotor laat in die wedren deel van die aksie geword het.

“Ek weet nie eintlik wat om te sê nie – dit is ’n onbeskryflike gevoel. My eerste oorwinning; 150 wedrenne later en op Silverstone. Ek het gehoor dat Lewis sy bes gedoen het om my in te haal, maar die veiligheidsmotor het vir my ’n geleentheid gegee wat ek met al twee hande aangegryp het,” het die Spaanse renjaer gesê.

Uitslae:

  1. Carlos Sainz (Ferrari)
  2. Sergio Perez (Red Bull)
  3. Lewis Hamilton (Mercedes)
  4. Charles Leclerc (Ferrari)
  5. Fernando Alonso (Alpine)
  6. Lando Norris (McLaren)
  7. Max Verstappen (Red Bull)
  8. Mick Schumacher (Haas)
  9. Sebastian Vettel (Aston Martin)
  10. Kevin Magnussen (Haas)

Jaerspunteleer:

  1. Max Verstappen 181 punte
  2. Sergio Perez 147 punte
  3. Charles Leclerc 138 punte
  4. Carlos Sainz 127 punte
  5. George Russell 111 punte
  6. Lewis Hamilton 93 punte.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Snowball ·

Baie geluk aan Sainz. Perez was weer ‘n yster om van 14de af te kom en 2de te eindig. Was George Russell aanspreeklik vir die nare ongeluk met Zhou Guanyu?

piet ·

Dis nou vasbyt en aanhou en die vrugte pluk na 150 probeerslae. Wys jou nou net, nie maklik nie (en ook hoe bevoorreg die top jaers is om met die beste motors te jaag).

Lollapop ·

Baie Geluk Carlos !, so jammer Max se kar beskadig, lyk my meer ongelukke as in vorige wedrenne en dit verhand bordjies

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.