Britse Grand Prix: Lekband kon Hamilton nie keer; Bottas wel

Lewis Hamilton. Foto: Twitter.

As is verbrande hout!

Vir byna 90 minute was daar Sondag kwalik enige opwinding in die Britse Formule Een-Grand Prix op Silverstone.

Die berig was byna reeds klaar geskryf, soortgelyk aan die ene van twee weke gelede van die ren in Hongarye wat só gelui het: Lewis Hamilton (Mercedes) het sy 86ste loopbaansege behaal en is nou binne vyf seges van Michael Schumacher se rekordgetal van 91 loopbaanseges.

Toe Hamilton Sondag op Silverstone die Britse ren ʼn sewende keer gewen het, sou die verslag basies dieselfde gewees het: Lewis Hamilton (Mercedes), wat sy 87ste sege behaal het, is nou net vier seges af van Michael Schumacher se rekordgetal van 91 loopbaanseges.

Max Verstappen (Red Bull) was Sondag tweede, Charles Leclerc (Ferrari) derde, Daniel Ricciardo (Renault) vierde, Lando Norris (McLaren) vyfde en Esteban Ocon (Renault) sesde.

Maar nee, die groot verskil was dat die laaste drie rondtes van Sondag se ren meer drama as in die voorafgaande 59 rondtes opgelewer het.

Eers het Hamilton se Mercedes-spanmaat, Valtteri Bottas, wat die hele ren tweede was, se motor ʼn lekband opgedoen en moes hy die helfte van die baan voortsukkel terwyl sy band al hoe meer verweer het.

Bottas moes kuipe toe om bande te vervang en het 11de geëindig.

Verstappen het intussen die kuipe aangedoen om bande te vervang om die vinnigste rondtetyd aan teken … wat hy reggekry het.

Sy renmotor se linker voorband. Foto: Twitter.

Maar as hy bly jaag het, sou hy die ren gewen het, want Hamilton het ook ʼn lekband opgedoen en moes oor die eindstreep strompel en heelwat tyd inboet met ʼn linker voorband wat gaar was.

Volgens Hamilton het sy hart byna gaan staan en wees maar seker, die bandevervaardiger Pirelli het baie om te verduidelik.

Vir die rekord: Hamilton (88), het sy puntelys-voorspong bo Bottas (58) vergroot met Verstappen (52) derde en Leclerc (36) vierde.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae