’n Broer en suster van Centurion het met nie minder nie as vyf medaljes by die Afrika Skermkampioenskap vir kadette en juniors weggestap.
Christiaan Bester (15) het drie medaljes waaronder ’n goud, silwer en brons verower, terwyl sy suster Natania (17) met ’n goud en brons huiswaarts gekeer het van die byeenkoms wat van 7 tot 10 Maart in die Ivoorkus in Wes-Afrika gehou is.
Pa Niell vertel dat sy kinders hoofsaaklik fokus op die dissipline wat ‘degen’ genoem word.
Dit is dan ook in dié dissipline waarin Christiaan ’n goud in die kadetafdeling en ’n silwer in die juniorafdeling verower het. Sy bronsmedalje was in die kadetafdeling se ‘fleuret’- dissipline.
Natania het goud in ‘degen’ vir juniorvroue en haar bronsmedalje in dieselfde dissipline in die kadetvroue-afdeling gewen.
Niell sê dat kadette vir o.17’s is en juniors vir o.20’s is. “Deelnemers word toegelaat om in die kampioenskap in twee afdelings deel te neem.”
Die twee, wat sedert 2009 skerm, het volgens Pa Niell nog mikpunte, wat deelname aan ’n Europese Kampioenskap en die Junior Wêreldkampioenskap insluit.
Niell vertel dat hy ’n paar jaar gelede ’n praatjie oor die sport skerm oor die radio gehoor het en dit is hoe hulle daarin beland het.
“Ek het na iets gesoek wat ons as gesin kan saam doen, iets wat fiksheid en koördinasie bevorder. Skerm is dit,” sê Niell.
Christiaan en Natania, wat tuisonderrig ontvang, is lede van die Universiteit van Pretoria se skermklub by die Groenkloofkampus.
Niell, ’n ouditeur van beroep, sê dit is nie ’n opoffering om sy kinders na oefeninge aan te ry nie.
En wat doen Christiaan en Natania as hulle nie agter die boeke sit of skerm oefen nie?
“Ons as gesin hou daarvan om by die Groenkloof-natuurreservaat te gaan stap, maar die meeste van die tyd rus hulle by die huis,” vertel Niell.