Cape Epic stuur af op spannende einde

Nino Schurter (Foto: Nick Muzik/Cape Epic/SPORTZPICS)

Met net twee dae van die Absa Cape Epic wat voorlê is die gaping tussen die voorste twee spanne  ʼn skamele 50 sekondes.

Nino Schurter en Matthias Stirnemann (Scott-Sram MTB) het die vyfde skof van dié meerdaagse bergfietstoer gewen en daarmee sommer ook die voorsprong geneem. Hul wentyd was 3:50;35.

Die Switsers is egter net 50 sekondes voor Jaroslav Kulhavy en Christoph Sauser (Investec-Songo-Specialized) wat derde in die skof was. Die Scott-spanne het weer saam oor die eindpunt hier by Oak Valley gery soos die geval was in die vierde skof. Dié keer slag was die Scott Young Guns Andri Frischknecht en Michiel van der Heijden tweede.

♦  Dit was  ʼn dag vol drama vir al die voorste spanne. Die algehele voorlopers met die begin van die skof oor 84 km, Manuel Fumic en Henrique Avancini (Cannondale Factory Racing), het twee keer moes stop vir lekbande wat hulle elke keer  ʼn paar minute gekos het.

Die Duitser en Brasiliaan is nou algeheel derde en meer as nege minute agter. “Dit was nie  ʼn goeie dag nie. Ons het egter baklei tot die einde en vir meer as dit kan ek nie vra nie,” het Fumic gesê.

Met die taaiste skof van die 2017 Cape Epic op Saterdag wag  ʼn spannende dag. Sauser het gesukkel in Donderdag se skof en Kulhavy moes baie van die werk doen om seker te maak hulle bly aanspraakmakers. Daar was  ʼn stadium wat hulle byna twee minute agter was, maar teen die einde was dit net 20 sekondes.

“Dit was ʼn baie taai dag. Susi [Sauser] het  ʼn slegte dag gehad. Met die eerste groot klim het ons kontak verloor en vandaar was dit omtrent soos  ʼn tydtoets vir my. Ons kan egter baie tevrede voel met dit wat ons reggekry het. Ons kan steeds wen. Môre is  ʼn groot dag en ons het alles om voor te jaag. Dit is beslis nog nie verby nie,” het Kulhavy vasbeslote gesê.

“Vandag was hard. Ons het reeds vroeg aangeval, maar en toe ek sien Sauser sukkel en Cannondale is af, het ons die kans gewaag en dit het uitgewerk. Om die geeltrui te dra is nogal spesiaal. Dit was nie noodwendig die doelwit voor die tyd nie, maar nou sal ons alles gee om te wen,” het Schurter gesê.

Dit is baie duidelik dat Schurter en Kulhavy die twee sterkste ryers by vanjaar se Cape Epic is. Die vraag is net wie se spanmaat Saterdag kan byhou op gedugte klimme soos Groenlandberg,  ʼn 9km-klim met  ʼn allemintige 600m se hoogte in net dié afstand.

Dit sal interessant wees om te sien wie herstel die beste na Vrydag se skof, want as dit Sauser is sal dié Switser waarskynlik sy droom verwesenlik om sy sesde Cape Epic te wen. “Ek het nie gekom om tweede te eindig nie,” het Sauser gesê.

♦  Daar wees nie soortgelyke drama in die vroue se wedren nie. Suid-Afrika se Robyn de Groot en Sabine Spitz van Duitsland (Ascendis Health) het die skof in 4:28:51 gewen. Die algehele voorlopers, Esther Süss van Switserland en Swede se Jennie Stenerhag (Meerendal CBC), was tweede in dieselfde tyd en is steeds meer as 12 minute voor.

Die voorlaaste skof Vrydag  begin en eindig by Oak Valley. Die skof begin 07:00 en die voorste jaers word om 11:25 verwag.

Vir regstreekse uitsending van die aksie besoek die Cape Epic se amptelike webtuiste www.capeepic.com

Artikel verskaf deur Absa Cape Epic

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.