Carlos beloof seer enkel sal hom nie stuit

Carlos Alcaraz is die verdedigende Indian Wells-kampioen, (Foto: Twitter/ATP Tour)

Carlos Alcaraz wil skitter by die Indian Wells-toernooi in Kalifornië. Die Spaanse tenniskroonprins sal alles in die stryp werp om sy troonopvolgerstatus ʼn hupstoot te gee.

Ja, hy is die verdedigende kampioen in die Amerikaanse woestyn, maar hy sukkel deesdae met sy spelpeil.

Die 20-jarige speler is in die kwarteindstryd van die Australiese Ope deur Alexander Zverev uitgeskakel, terwyl Nicholas Jarry sy tennisavontuur in Buenos Aires kortgeknip het.

Boonop dra ʼn onlangse enkelbesering ook tot sy konsternasie by.

Maar hy wil met alle mag en mening wedstryde wen.

“Ek is hier om my titel te verdedig. Ek weet egter dat dit nie maklik gaan wees nie – van die topspelers wêreldwyd is hier. Dit is ouens wat tans baie goeie tennis speel,” het Alcaraz gesê.

Volgens die naasbeste speler op die internasionale verhoog voel en beweeg hy goed op die oefenbaan.

“Mense wonder heeltyd of my enkel oukei gaan wees; ons sal net moet wag en kyk. Ek voel wel baie beter en wil dit weer eens onderstreep: Ek is hier om my titel te verdedig en sal nie sommer van stryk gebring word nie.”

Sy Indian Wells-toernooi begin amptelik Vrydag teen Italië se Matteo Arnaldi.

ʼn Spul kwalifiserende wedstryde is vandeesweek beslis, maar Andy Murray het sy openingswedstryd teen België se David Goffin met 6-3 en 6-2 beklink.

Die 36-jarige Skot het veral met sy afslaanwerk beïndruk.

“Dit is die beste wat ek nóg hier afgeslaan het. Ek het nog altyd daarmee gesukkel wanneer ek hier speel. Dinge het egter nou baie beter gegaan,” het Murray gesê.

  • Uitslae:

Mans:

Andy Murray klop David Goffin met 6-3 en 6-2

Matteo Arnaldi klop Luca van Assche met 7-6 en 7-6

Christopher O’Connell klop Jack Draper met 1-6, 6-3 en 6-2

Thanasi Kokkinakis klop Marcos Giron met 6-3 en 7-5

Constant Lestienne klop Vit Kopriva met 6-1 en 6-3

Vroue:

Angelique Kerber klop Petra Martic met 6-3 en 6-4

Enrika Andreeva klop Kayla Day met 6-1, 3-6 en 6-3

Liv Hovde klop Harriet Dart met 6-2 en 6-3

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.