Carlos, Novak dalk in Parys-semi slaags

Novak Djokovic en Carlos Alcaraz. (Foto: Matthieu Mirville/DPPI via AFP)

Danksy die Franse Ope-loting kan tennisliefhebbers na ʼn moontlike halfeindstryd-ontmoeting tussen Novak Djokovic en Carlos Alcaraz in Parys uitsien.

Die twee spelers het nog net een keer vantevore teen mekaar gespeel: Die opkomende ster het verlede jaar die tennismeester met 6-7, 7-5 en 7-6 in die halfeindstryd van die Madrid-ope geklop.

Alcaraz, wat juis Maandag vir Djokovic as die wêreld se voorste speler onttroon het, kan ook teen Cameron Norrie en Stefanos Tsitsipas kragte meet.

Die Spaanse tennisster het reeds vanjaar drie titels – in Buenos Aires, Barcelona en Madrid – op kleibane gewen en hy sal oorgehaal wees om met nog ʼn Grand Slam-trofee in sy vertoonkas te spog.

Daarteenoor sal Djokovic poog om sy 23ste Grand Slam op Roland-Garros te wen en benewens die moontlike halfeindstryd-ontmoeting teen Alcaraz kan hy ook teen Andrey Rublev kragte meet.

Die Serwiër se openingswedstryd is teen die VSA se Aleksandar Kovacevic, ʼn speler wat tans 114de op die amptelike ATP-ranglys is.

Djokovic het egter vroeër erken dat hy op kleibane sukkel en Holger Rune het hopeloos te veel skietgoed vir hom in Rome gehad.

Tog meen Patrick Mouratoglou dat die 36-jarige speler steeds die wêreld se beste is.

“Selfs al loop hy ʼn paar toernooie mis, is hy steeds die wêreldnommereenspeler en hy sal eendag waarskynlik as die grootste speler nóg bekendstaan. Novak Djokovic is iemand wat al vir die afgelope 15 jaar Grand Slam-toernooie wen,” het die bekende afrigter gesê.

Mouratoglou meen dat Carlos Alcaraz beslis eendag die tennisleisels by die Serwiese ster kan oorneem.

“Ek verstaan waarom mense opgewonde raak oor Carlos se spel. Hy kan ʼn bal baie hard slaan, terwyl hy ook oor ongelooflike plofkrag beskik. Maar is hy al bó Novak? Nog nie.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.