Carlos-Novak-eindstrydtrein tel spoed op

Carlos Alcaraz is nog op koers om sy Amerikaanse Ope-titel te verdedig. (Foto: Kena Betancur/AFP)

Dit lyk of Carlos Alcaraz en Novak Djokovic in nóg ʼn eindstryd gaan rakette kruis. Al twee spelers het na die halfeindstryd van die Amerikaanse Ope in New York deurgedring.

Djokovic het vroeër met Taylor Fritz afgereken, terwyl Alcaraz nou korte mette met Alexander Zverev gemaak het.

Die jong Spanjaard het sy kwarteindstryd-kragmeting op ʼn drafstap met 6-3, 6-2 en 6-4 beklink en hy is nog op koers om sy titel suksesvol te verdedig.

“Ek is baie op my gemak hier op die bane van New York en ek speel beslis my beste tennis. Ek voel fisiek goed en ek is gereed vir die halfeindstryd,” het Alcaraz gesê.

Die 20-jarige speler sal teen Daniil Medvedev in een van die halfeindstryde te staan kom, terwyl Djokovic teen Ben Shelton sal kragte meet.

Die vooruitsig van nog ʼn Alcaraz‑Djokovic-eindstryd laat tennisliefhebbers beslis regop sit.

Alcaraz het die silwerware ná ʼn  titaniese Wimbledon-eindstryd omhoog gehou, terwyl Djokovic koning gekraai het in die Western & Southern-ope.

Die Serwiër het ná Wimbledon gesê dat hy graag weer teen die Spaanse tenniskroonprins sal wil speel.

“Hy gaan nog vir lank deel van die ATP-toer wees, terwyl my speeluurglas besig is om leeg te loop. Ek sal daarvan hou as ons weer vir die Amerikaanse Ope teen mekaar kan speel – die no. 1- en no. 2-speler ter wêreld wat mekaar in vyf stelle opdreun. Dit is baie goed vir tennis.”

Uitslae:

Carlos Alcaraz klop Alexander Zverev met 6-3, 6-2 en 6-4

Daniil Medvedev klop Andrey Rublev met 6-4, 6-3 en 6-4

Marketa Vondrousova klop Madison Keys met 6-1 en 6-4

Halfeindstryd-bepalings:

Coco Gauff teen Karolina Muchova

Madison Keys teen Aryna Sabalenka

Novak Djokovic teen Ben Shelton

Carlos Alcaraz teen Daniil Medvedev.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.