Carlos sal moet sweet om Novak te onttroon

Carlos Alcaraz. Foto: Twitter.

Met Novak Djokovic se inentingstatus wat weer eens ʼn stokkie voor sy deelname aan ʼn tennistoernooi in die VSA gesteek het, sal Carlos Alcaraz sy bes doen om weer die voorste speler ter wêreld te word.

Hy sal egter moet uithaal en wys, want selfs in die Serwiër se afwesigheid sal die jong Spanjaard met die Indian Wells-louere móét wegstap om ʼn suksesvolle terugkeer na die topplek op die amptelike ATP-punteleer te maak.

Die 19-jarige Alcaraz het verlede jaar die jongste wêreldno. 1-speler nóg geword toe hy die Amerikaanse Ope in New York gewen het, maar ʼn besering het hom vir ʼn ruk langs die baan gehou.

Hy het onlangs sy terugkeer tot mededingende tennis met ʼn spogvertoning gevier toe hy Cameron Norrie in die eindstryd van die Argentynse Ope geklop het.

“Hierdie is ongetwyfeld die tipe tennis wat ek in eindstryde sal moet opdis,” het ʼn tevrede Alcaraz ná die kragmeting gesê.

Djokovic het intussen ook amok op die tennisverhoog gemaak en benewens sy Australiese Ope-titel in Melbourne het hy onlangs Steffi Graf se rekord vir die meeste weke as die top- internasionale speler verbeter.

Die 35-jarige speler het homself egter aan die Indian Wells-toernooi in Kalifornië onttrek, wat daarop dui dat sy visumaansoek om die VSA te besoek onsuksesvol was.

Die organiseerders van die Amerikaanse Ope het skaars ʼn week gelede op Twitter nog die hoop uitgespreek dat Djokovic se petisie suksesvol sal wees om in die VSA af te slaan.

“Novak Djokovic is een van die grootste kampioenspelers in ons sport se geskiedenis. Ons hoop dat tennisliefhebbers hom weer by die Indians Wells en Miami sal sien speel.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Treurwilger ·

Dalk is Novak se gedwonge rusperiode voor die VSA-Ope ‘n bedekte seën vir sy 35-jarige liggaam, hoop regtig so.
Hoe kleingeestig van die Biden-administrasie om geen vax-vrystelling te gun ‘n paar weke voor dit in elk geval gebeur nie. Pateties.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.