Carlos sommer dadelik weer op wenpad

Carlos Alcaraz. Foto: Twitter.

Carlos Alcaraz het sy eerste wedstryd terug op die baan gewen toe hy vir Laslo Dere met 6-2, 4-6 en 6-2 in ʼn ATP250-toernooi in Buenos Aires geklop het.

Die 19-jarige Spanjaard was sedert November op die krukkelys nadat hy ʼn maagspierbesering in die kwarteindstryd van die Parys-meesterstoernooi opgedoen het.

“Dit is ʼn super gevoel om weer te wen. Ek moes vir ʼn hele ruk die aksie van langs die baan dophou – sonder enige wedstryde of kompetisie. Ek is baie dankbaar om uiteindelik my eerste oorwinning van 2023 te behaal.

Hoewel die voormalige wêreldnommereenspeler nog nie op alle suiers gevuur het nie – hy het immers die tweede stel verloor – het hy goed op die baan beweeg en ʼn paar kragtige houe afgevuur.

Tot groot vermaak van die Argentynse toeskouers.

“Ek is baie gelukkig om in Buenos Aires te wees en ek het glad nie soveel ondersteuning verwag nie. Die toeskouers het my energievlakke ʼn definitiewe hupstoot gegee en hopelik kan ek op hierdie vertoning voortbou.”

Alcaraz het met verlede jaar se Amerikaanse Ope-titel die jongste speler nóg geword om die eerste plek op die ATP-ranglys te beklee.

“Ja, 2022 was ʼn baie goeie jaar vir my. Ek het onder meer my doelwit bereik [om die wêreld se voorste speler te word], maar dit is ook belangrik om ander doelwitte vir jouself te stel. Ek is nog jonk en ek wil graag beter speel; daarom moet ek aanhou oefen en vorentoe kyk.”

Hy speel Vrydag in een van die toernooi se kwarteindstryde teen Dusan Lajovic.

Uitslae:

Cameron Norrie klop Facundo Diaz Acosta met 4-6, 7-5 en 7-6

Dominic Thiem klop Alex Molcan met 7-6 en 6-3

Carlos Alcaraz klop Laslo Dere met 6-2, 4-6 en 6-2

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.