Carlos wil wys hy is die tennisbaas van Barcelona

Carlos Alcaraz het sy eerste wedstryd in Barcelona op ’n drafstap gewen. (Foto: Twitter/Barcelona-ope)

As ʼn mens na Carlos Alcaraz se spel kyk, lyk dit of sy fiksheidsprobleme iets van die verlede is. Die jong ster het vroeër die Monte Carlo-meesterstoernooi misgeloop nadat hy van artritis en spierongemak gekla het.

Hy was egter weer op sy heel beste in sy eerste wedstryd van die Barcelona-ope in Spanje toe hy lag-lag met Nuno Borges afgereken het.

Die eindtelling was 6-3 en 6-1 in die guns van die wêreld se naasbeste speler. Hy het oudergewoonte met sy kragspel beïndruk en hy het sy teenstander met sy vurige mokerhoue onder druk geplaas.

“Ek voel baie goed, ek beweeg sonder enige probleme en ek slaan die bal lekker hard. Ek speel altyd met baie selfvertroue hier en dit is ʼn spesiale plek vir my,” het Alcaraz gesê.

Die 19-jarige speler sal poog om sy titel in dié Spaanse stad te verbeter nadat hy verlede jaar in die eindstryd met sy landgenoot, Pablo Carreno Busta, klaargespeel het.

Dit is omtrent ʼn Spaanse tennisfees: Alcaraz sal volgende teen Roberto Bautista Agut te staan kom.

Dan het Casper Ruud weerwraak teen Ben Shelton geneem.

Die Noorweegse speler – wat in hul vorige ontmoeting teen die Amerikaner vasgeval het – het nou hul tweestryd in Barcelona met 6-2 en 7-6 gewen.

“Ek wou hom natuurlik op die baan terugkry,” het ʼn glimlaggende Ruud ná die wedstryd gesê.

“Ons het nou op ʼn ander speeloppervlak en in ʼn ander kontinent gespeel en ek voel dat dit my spel ʼn bietjie beter pas. Maar ons het al twee goeie tennis gespeel.”

  • Uitslae:

Roberto Bautista Agut klop Bernabe Zapata Miralles met 6-2 en 6-2

Carlos Alcaraz klop Nuno Borges met 6-3 en 6-1

Emil Ruusuvori klop Frances Tiafoe met 6-4, 6-7 en 6-4

Alejandro Davidovich Fokina klop Tomas Etcheverry met 6-3 en 6-3

Casper Ruud klop Ben Shelton met 6-2 en 7-6

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.