Carreno Busta sê Djokovic kan ’n pyn in die nek wees

Novak Djokovic. (AP Photo/Christophe Ena)

Die wêreld se voorste tennisspeler, Serwië se Novak Djokovic, het na die halfeindstryd van die Franse Ope deurgedring toe hy Spanje se Pablo Carreno Busta met 4-6, 6-2, 6-3 en 6-4 geklop het.

Die 33-jarige Djokovic het egter gereeld behandeling vir ’n seer nek en skouer ontvang; iets waaroor Carreno Busta nie te gelukkig was nie.

Die Spanjaard het die eerste stel gewen en het veral met sy aanvallende spel beïndruk. Tog voel hy dat Djokovic altyd mediese behandeling ontvang wanneer dinge ’n bietjie te warm vir hom op die baan word.

“Vir die afgelope paar jaar doen hy dit altyd wanneer hy met sy spel op die baan sukkel,” het Carreno Busta sy lot bekla.

“Ek weet nie of die druk vir hom te veel raak of wat nie. Maar ek bedoel, hy speel altyd sonder enige probleme verder. Dalk verkeer hy werklik in pyn of dalk is dit iets sielkundigs; ’n mens moet hom maar vra. Elke keer wanneer die wedstryd teen hom draai, vra hy vir mediese hulp.”

(AP Photo/Christophe Ena)

Carreno Busta was ook die Serwiër se teenstander in die Amerikaanse Ope toe hy uit pure frustrasie die bal weggeslaan en een van die beamptes teen haar keel getref het.

“Hy doen dit alewig en ek het geweet dit sal weer sy kop gedurende die Franse Ope uitsteek. Ek het goed in die eerste stel gespeel, maar het daarna ’n hele paar kanse deur my vingers laat glip. Hy het toe skielik beter begin speel.”

Volgens Djokovic het hy reeds vóór die wedstryd las van ’n nekbesering gehad en dit het veral sy rughandhou beïnvloed. Dinge het egter beter begin word soos wat die kragmeting gevorder het.

Hy speel nou in die halfeindstryd teen Griekeland se Stefanos Tsitsipas.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Helen ·

Dood moet n oorsaak he ….. hyt verloor nou kla hy. In die Amerikaanse ope het hy die wedstryd pasella gekry

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.