Clarkson beslis ’n Verstappen-ondersteuner

Jeremy Clarkson. Foto: Stefan Heunis/AFP.

Dit is duidelik dat die gewese Top Gear-aanbieder, Jeremy Clarkson, nie veel ooghare vir Lewis Hamilton het nie, maar hy is beslis beïndruk met Max Verstappen se vertoning in die afgelope Amerikaanse Grand Prix.

Die jong Nederlander het koelkop agter die stuur gebly om Mercedes se VSA-oorheersing te beëindig.

Ja, Hamilton het weliswaar vir Verstappen vroeg in die wedren verbygesteek, maar die Red Bulls-span se slim kuipstrategie het gesorg dat hulle die kat-en-muis-speletjie uiteindelik gewen het.

Die geruite vlag is vir Verstappen geswaai; hy was uiteindelik net meer as ’n sekonde vinniger as Hamilton.

Clarkson is beslis nie op sy bek geval nie en ná ’n vloekwoord (waarskynlik om sy gevoel van verbasing en waardering sterker oor te dra) het hy die Red Bull-renjaer se lof besing.

“$#%! me. Max Verstappen. What a drive,” het Clarkson getwiet.

Amper 80 000 mense het intussen die like-knoppie gedruk, terwyl 6 700 mense die twiet gedeel het.

Daarteenoor het hy voorheen al by meer as een geleentheid sy mes vir Hamilton ingehad.

Die Mercedes-renjaer was vroeër in ’n titaniese stryd met Fernando Alonso in Boedapest gewikkel en die 40-jarige Spanjaard het sy posisie uitstekend verdedig. Die hele storie het vir Hamilton gekniehalter en hy moes uiteindelik met ’n derde plek in Hongarye tevrede wees.

“Lewis Hamilton verdien ’n goeie pak slae. Hy was tydens die Hongaarse Grand Prix gereeld op die radio om te kla dat Alonso kroek; iets wat hy beslis nie gedoen het nie,” het Clarkson in die Britse pers geskryf.

Dan het die verdedigende wêreldkampioen aansienlik moeër as Esteban Ocon en Sebastian Vettel op die podium gelyk. Hy het later gesê dat sy stryd met die nagevolge van Covid-19 nog lank nie verby is nie.

“Dinge het maar ’n bietjie vaag vir my op die podium gevoel. Ek sukkel al heeljaar met my gesondheid ná wat verlede jaar gebeur het,” het Hamilton gesê.

Nodeloos om te sê, Clarkson het glad nie daarvan gehou nie.

“Vir my is dit maar net ’n ander manier om te sê: ‘Ignoreer asseblief vir Esteban Ocon, die groentjie wat my so pas geklop het. Ek is die ware held en moet dit nie vergeet nie.’

“Ek is jammer, Lewis, maar as jy só optree, is jy allesbehalwe ’n held. O ja, en betaal jou belasting,” het Clarkson destyds afgesluit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

VaalDonkie ·

Hamilton is ‘n klein kapokhaantjie. Die enigste rede waarom hy so goed doen is omdat hy so kort en klein is dat hy ‘n geweldige gewigsvoordeel bo die ander jaers het XD

MCL ·

Hy se dinge soos dit is! Hamilton verdien nie die titles wat hy het nie. En hy Kan maar sy blm hempies dra. Niemand gee om oor jou nie!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.