Coetzé deur na nog ʼn eindronde

Pieter Coetzé in aksie by die Wêreldkampioenskap in Doha. (Foto: Sebastien Bozon/AFP)

Pieter Coetzé het vir die eindronde van die 200 m-rugslagitem by die Wêreldkampioenskap in Doha gekwalifiseer toe vyfde in die halfeindstryd met ʼn tyd van 1:57.07 geëindig het.

Volgens die jong Pretorianer het hy dinge ʼn bietjie anders as vantevore benader.

“Ek het ʼn bietjie vinniger as gewoonlik begin en ek het beslis in die pylvak die prys daarvoor betaal. Tog leer ek elke keer iets nuuts wanneer ek ʼn 200 m swem,” het Coetzé gesê.

Dit is nog betreklik vroeg in die jaar – die groot prys wag immers eers in Julie by die Olimpiese Spele in Parys – en volgens die swemmer is die tyd nou ryp om ʼn bietjie ander strategieë in die swembad uit te toets.

“Ek is bly dat ek iets nuuts kon probeer om uit te vind wat vir my werk of nie werk nie. Ja, ek is dankbaar om terug in die eindronde te wees; dit was immers die hoofdoelwit. Ek is egter nie tevrede met hoe ek gevoel het nie en hopelik kan ek genoeg rus inkry.”

Coetzé het vroeër die week vyfde in die eindronde van die 100 m-rugslag geëindig nadat hy een van die toptye in die halfeindstryd losgeswem het.

Hy het toe ʼn paar keer ná die 50 m-omdraaislag die toue raakgeswem en dit het beslis ʼn invloed op sy gewone sterk eindpoging gehad.

“Daar is nie eintlik veel om te sê nie – ek was nie juis meer op my senuwees as vóór ander lopies nie. Dit was ʼn nuutjie vir my om die toue te tref en ek is teleurgesteld met die uitslag van die sessie,” het die Pretorianer na afloop van die eindronde gesê.

Dan het Erin Gallagher sesde in die halfeindstryd van die 100 m-vryslagitem met haar tyd van 54.53 sekondes geëindig.

Sy is egter vandag weer in die 50 m-vlinderslaguitdunne in aksie.

“Ek is baie opgewonde. Dit is die item waarvoor ek al die hele week wag. Ek is mal oor die 50 m-vlinderslag – jy moet so te sê net jou induik en laat wiel,” het Gallagher gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.