Coetzé lyk onstuitbaar in water

’n Argieffoto van Pieter Coetzé. Die jong swemmer het reeds vier goue medaljes by die nasionale kampioenskap ingeoes. (Foto: Manan Vatsyayana/AFP)

Vergeet vir eers van Elandré se Vuur op die water-treffer; Pieter Coetzé sorg tans vir vuur ín die water!

Die jong Suid-Afrikaanse swemsensasie het Donderdag sy vierde goue medalje by die nasionale kampioenskap in Gqeberha losgeslaan en hy het terstond sommer ook twee Olimpiese kwalifiserende tye geswem.

Om vir die 100 m-rugslagitem in Parys te kwalifiseer, moet swemmers laat waai met ʼn tyd van 53.74 s.

Nou ja, Coetzé het éérs die uitdunronde in 53.05 s voltooi, waarna hy na die titel en goue medalje met sy tyd van 52.89 s gestorm het.

Ruard van Renen was tweede met ʼn poging van 54.50 s.

“Ek voel baie goed en ek het duim vas gehou dat Ruard ook vir die Spele kon kwalifiseer. Dit sou lekker gewees het as ons dit al twee kon doen, maar ek weet dat hy dit wel sal regkry,” het Coetzé gesê.

“Ruard is baie sterk onder die water en met die omdraaislag moes ek so vinnig as moontlik swem [om die goue medalje in te oes].”

Die Pretorianer het vroeër die week onder meer ʼn opwindende 100 m-vryslagresies teen Chad le Clos en Guy Brooks gewen.

Coetzé se wentyd was 49.12 s, gevolg deur Le Clos (49.34 s) en Brooks (49.42 s).

“Ek is iemand wat daarvan hou om te wen, maar dié oorwinning smaak soveel soeter met Chad en Guy wat ook op hul stukke was,” het die Statebond-gouemedaljewenner gesê.

“Ek sou daarvan gehou het om ʼn 48-sekondetyd op te stel, maar ons het nie veel rus in aanloop tot die item gehad nie. Ek het die Olimpiese Spele in die visier en ek is in my noppies met my vertoning.”

So gepraat van die Spele – Coetzé (100 m- en 200 m-rugslag), Tatjana Smith (200 m-borsslag) en Kaylene Corbett (200 m-borsslag) het Olimpiese kwalifiserende tye in Gqeberha behaal.

Coetzé se goue medaljes by die SA kampioenskap:

50 m-rugslag, 100 m-vryslag, 200 m-rugslag en 100 m-rugslag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.