Corinna Schumacher wil Switserse herehuis verkoop

Corinna en Michael Schumacher. Foto: Jens Kalaene/AFP Photo.

Volgens berigte het Corinna Schumacher, die vrou van die F1-legende Michael, hul herehuis in Switserland vir £6,4 miljoen (amper R127 miljoen) in die mark gesit.

The Mirror berig dat die Schumachers nou op die Spaanse eiland van Mallorca woon in ’n huis wat eers aan Florentino Perez, die president van sokkerreus Real Madrid, behoort het.

Michael gaan glo voort met sy rehabilitasiewerk, maar daar is steeds bitter min inligting oor sy gesondheidstoestand bekend.

Die Ferrari-ster het in 2013 ernstige kopbeserings opgedoen ná ’n ski-ongeluk in die Franse Alpe en hy is juis by die Schumachers se Switserse woning versorg.

Familievriende soos die voormalige Ferrari-baas Jean Todt, besoek hom egter nog gereeld en hy het verlede jaar gesê dat Schumacher nog oor soveel veglus as altyd beskik.

“Michael het ’n ongelooflike vrou aan sy sy, hy het sy kinders en verpleërs; ons kan hom en sy gesin net sterkte toewens,” het Todt destyds gesê.

Erich Riederer, ’n wêreldbekende neurochirurg, het op sy beurt ’n somberder prentjie geskilder. “Ek dink hy is in ’n vegetatiewe toestand wat beteken dat hy wakker is, maar nie reageer nie,” het Riederer aan ’n Franse TV-stasie gesê.

Volgens die chirurg kan Schumacher waarskynlik regop sit en met moeite enkele treë stap, maar dit is waarskynlik die toppunt van sy vermoë.

“Is daar enige kans dat die wêreld hom weer sal sien soos wat hy vóór sy ongeluk was? Ek dink werklikwaar nie so nie.”

Mick Schumacher volg in sy pa se motorsport-voetspore en hy het vanjaar sy F1-buiging vir Haas gemaak.

Volgens Todt kan Michael sy seun se vordering volg, terwyl die jong Schumacher vroeër al twee sy ouers vir hul ondersteuning bedank het.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.