Correa weer agter die stuur na gru-ongeluk

Die ongelukstoneel van 31 Augustus 2019. Foto: Remko de Waal/ANP/AFP.

In minder as twee jaar ná sy ernstige botsing op die Spa-Francorchamps-renbaan in België, is Juan Manuel Correa weer terug agter die stuur.

Die Franse F2-renjaer Anthoine Hubert (22) is in die ongeluk op 31 Augustus 2019 dood.

Hubert se motor het destyds teen ʼn geraamde 257 km/h teen Correa gebots nadat hy beheer om ’n draai verloor het. Hy het teen die bandemuur afgeskiet en oor die baan geswenk voordat hy Correa se motor getref het.

Correa het sy bene in die ongeluk gebreek en was weke lank in ’n koma. Daarbenewens moes hy meer as ’n jaar lank met ’n beenstut as deel van sy rehabilitasieproses oor die wegkom.

Nou – 16 maande later – sal hy saam met ART Grand Prix in die F3-afdeling in aksie wees.

“Ek is baie dankbaar om terug te wees ná alles wat ek moes deurmaak. F3 is ’n tree in die regte rigting en die droom is steeds om eendag agter die stuur van ’n F1-motor te klim,” het Correa gesê.

Juan Manuel Correa. Foto: Twitter.

Hy is egter realisties oor sy doelwitte – hy het immers maande lank nie ’n renmotor bestuur nie.

“Ek moet oopkop bly en nie te veel druk op myself plaas nie. Ek sal my beste gee en ek doen in elk geval weer dit waarvoor ek so lief is; dit is reeds ’n groot oorwinning in my oë.”

Volgens Sebastien Philippe, ART Grand Prix se spanbaas, is Correa ’n vegter.

“Hy is die toonbeeld van dapperheid en ons is trots om hom ’n kans te gee om sy terugkeer te maak. Hy is geestelik baie sterk terwyl hy oor ongelooflike talent agter die stuur beskik. Ons sal hom na die beste van ons vermoë bystaan,” het Philippe gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.