CrossFit-herrie ná stigter se George Floyd-twiet

Noah Ohlsen (links) en Chandler Smith (regs) is die twee CrossFitt-sterre wat aangedui het dat hulle nie by vanjaar se Spele in aksie sal wees nie. Foto: Twitter.

’n Storm het in die CrossFit-wêreld losgebars nadat die stigter, Greg Glassman, op ’n Twitter-boodskap van die Institute for Health Metrics and Evaluation gereageer het.

Die instituut het in sy sosialemedia-inskrywing gesê dat rassisme ’n openbare gesondheidskwessie is waaraan daar dringend aandag gegee moet word. Hulle het die inskrywing met die hutsmerk #BlackLivesMatter afgesluit.

Glassman het op die twiet met “It’s FLOYD-19” geantwoord.

Rassespanning in die VSA kook oor ná die dood van die 46-jarige George Floyd. ʼn Video het gewys hoe Floyd ná sy inhegtenisneming op die grond lê en na sy asem snak terwyl ʼn wit polisiebeampte op sy keel kniel.

Sy dood het tot grootskaalse betogings en plundery gelei en die Amerikaanse weermag is selfs ontplooi om die vrede te bewaar.

Nodeloos om te sê, Glassman se opmerking het nie op die beste tyd gekom nie en Reebok het onder andere hul tien jaar lange borgskap met CrossFit beëindig.

“Ons vennootskap met CrossFit sal later vanjaar eindig. Ons was wel in samesprekings oor ’n hernieude ooreenkoms, maar ná die onlangse gebeure het ons besluit om ons vennootskap met CrossFit te beëindig,” het Reebok in ’n verklaring gesê.

CrossFit-sterre soos Chandler Smith en Noah Ohlsen het aangedui dat hulle vanjaar se Spele sal misloop, terwyl die legendariese Rich Froning ook sy misnoeë met Glassman se inskrywing te kenne gegee het.

“Dit is onmoontlik om lojaal te bly aan leierskap wie se uitsprake vervreem en verdeel in ’n tydperk waarin eenheid nodig is,” het Froning gesê.

Die 32-jarige het die Spele vier keer as ’n individuele atleet gewen, terwyl hy ook vier keer eerste op die podium saam met CrossFit Mayhem in die spankompetisie was.

Die huidige vrouekampioen, Australië se Tia-Clair Toomey, het gesê sy is hartseer oor wat gebeur het en dat haar verbintenis met CrossFit onseker is.

Glassman het op CrossFit se amptelike Twitter-rekening om verskoning gevra.

“Ek, sowel as CrossFit-hoofkantoor en die hele CrossFit-gemeenskap sal nie rassisme duld nie. Ek het ’n fout gemaak met die woorde wat ek gister gebruik het en ek is jammer oor die pyn wat dit veroorsaak het. Dit was ’n fout – nie rassisme nie – maar ’n fout.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Mauritz ·

Stede word afgebrand, winkels word gestroop, eiendom word beskadig. Geen probleem nie. Een twiet en die hel is los.

Boksombende ·

Miskien is die wyse ding om op hierdie oomblik niks te sê nie, want dit maak nie saak of wat jy sê reg is nie, al wat saak maak is dat mense wraak wil neem en enige teiken sal kies.

Pappa Beer ·

Ek wonder of die wereld wye reaksie dieselfde sou wees as die rolle omgeruil was, as n swart polisie beampte n blanke man doodgemaak het.

Michael 1 ·

Dat n gevonniste krimineel soos floyd nou die wereld omkeer wys net hoeveel ledigheid daar is in die wêreld.

Alleen Wolf ·

Die klomp s.g. polities korrektes maak my siek, hulle moet wakker word, daar gebeur daagliks sulke gevalle van wreedheid deur swartes teen blankes en daaroor word nie ‘n woord gerep nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.