CrossFit-ope: Dit het omtrent burpees gereën

Foto ter illustrasie. Nick Anapolsky het eintlik tydens sy wêreldrekord-poging 879 burpees in ’n uur gedoen. Foto: Instagram.

“Ag, $%&#,” het die meeste CrossFitters waarskynlik gedink toe hulle sien dat hulle ’n magdom burpees saam met hul dooiegewigoptel-pligte in die Ope se tweede oefenuitdaging moes doen.

Want hierdie gevreesde opstoot-hurk-en-spring-in-die-lug-oefening kan selfs die fiksste atlete slapelose nagte besorg.

Die geswetsery het seer sekerlik in gebed tydens die oefensessie verander; as dinge volgens plan verloop, moes atlete 200 repetisies (wat dan uit dooiegewigoptel en burpees bestaan) binne tien minute kafdraf.

Selfs Rich Froning – viermalige individuele CrossFit-kampioen – het oor duiseligheid gekla toe hy die moordende storie in 8:08 minute voltooi het.

Tog het CrossFit RedShack se Tessa Geldenhuys nie haar sakdoek oor die burpee-nuus natgehuil nie; sy hou eintlik van die beweging.

Lees dit gerus weer: Sy hóú van die beweging.

“Ek het egter lanklaas ordentlik geoefen en dan begin ’n mens aan al die oumensstories dink – die blou kolle op jou knieë, die seer rug, ensovoorts. Tóé word ek skielik hartseer,” het sy geskerts.

Daarteenoor het sy nie veel ooghare vir die ander beweging gehad nie. Ja, CrossFit se grootbase daar in die VSA het nie van deelnemers verwag om baie swaar gewigte vanaf die grond op te tel nie, maar as jy nie van iets hou nie, dan gaan jy nie sommer oornag van deuntjie verander nie.

Tessa Geldenhuys. Foto: Verskaf.

Geldenhuys het vir haarself die doelwit gestel om tien rondes binne die toegelate tyd te voltooi, daarna was sy bereid om hard vir enige bykomende rondes te werk.

“Ek was agterna lekker moeg, maar dit is net omdat ek onfiks is!”

Maar harde werk, deursettingsvermoë, toewyding en trots is immers dinge waaraan sy gewoond is.

Sy is ’n suster by ’n groot staatshospitaal in Pretoria waar sy na pasiënte in die intensiewesorgeenheid omsien. Sy vertel dat haar CrossFit-loopbaan – wat nou in sy sesde jaar is – ongetwyfeld ’n positiewe invloed op haar beroep het.

“Dit is seker al ’n holruggeryde storie, maar ek het van my beste vriende deur die sport ontmoet. Ek oefen gereeld ná ’n nagskofsessie en hulle is altyd daar vir my wanneer ek wil afpak. Terselfdertyd het hulle al ’n spesiale pad saam met my gestap – van my gemeenskapsjaar tot nou.”

Skielik lyk ’n burpee of twee nie meer so eienaardig nie, of hoe?

  • Die derde Ope-oefensessie word môre bekend gemaak.
  • Ope-voorlopers:

Mans:

  1. Phil Toon, VSA
  2. Saxon Panchik, VSA
  3. Matt Poullin, VSA
  4. Victor Ljungdal, Swede
  5. Justin Medeiros, VSA
  6. Dallin Pepper, VSA
  7. Colten Mertens, VSA
  8. James Sprague, VSA
  9. Jay Crouch, Australië
  10. Alex Kotoulas, Griekeland

Vroue:

  1. Mal O’ Brien, VSA
  2. Tia-Clair Toomey, Australië
  3. Leah Stohren, Noorweë
  4. Laurie Clement, Frankryk
  5. Andre Solberg, Noorweë
  6. Emma McQuaid, Ierland
  7. Brooke Wells, VSA
  8. Haley Adams, VSA
  9. Grace Strachan, Kanada
  10. Ellie Turner, Australië
  • Suid-Afrikaners:

Mans:

  1. Kealan Henry
  2. Darren Zurnamer
  3. Damian Burns
  4. Ruan Duvenage
  5. Callum Deeble

Vroue:

  1. Lee Keyrouz
  2. Mariska Smit
  3. Georgia Ayres
  4. Michelle Merand
  5. Michelle Basnett

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.