CrossFit Spele: Dis maar weer dieselfde

Mat Fraser. Foto: Twitter.

Daar lê nog ’n hele dag se oefensessies in Kalifornië voor, maar jy hoef nie Nostradamus te wees om te weet wie met die louere gaan weghardloop nie.

Ja, die bogenoemde sin is dalk nie taalkundig heeltemal korrek nie, maar Mat Fraser en Tia-Clair Toomey stap nie vir die res van die kompetisie weg nie; hulle hardloop en niemand sal hulle seker kan inhaal nie.

Ná 11 oefensessies – wat alles van swaar gewigte en fietse tot gimnastiek en draftekkies ingesluit het – het Fraser 875 punte en Toomey 770 punte.

Dit beteken dat Fraser vir die vyfde agtereenvolgende keer as die sportsoort se fiksste aangewys sal word, terwyl Toomey haar vierde titel kan inpalm.

Is daar iemand wat hulle eendag sal kan wen?

Foto: Twitter.

Die 20-jarige Justin Medeiros het soos ’n vetgesmeerde blits weggetrek en Fraser goed op die eerste dag gejaag, maar sy min ervaring tel teen hom en hy het gister stelselmatig die oefenpad effens byster geraak.

Dan is die 19-jarige Haley Adams ongetwyfeld die wêreld se fiksste tiener en sy oefen saam met die legendariese Rich Froning by CrossFit Mayhem in die VSA.

Dalk sal die twee eendag vir Fraser en Toomey onttroon.

So van Froning gepraat: Die 33-jarige het agt Spele-titels agter sy naam, maar hy het in 2014 sy uittrede as individuele atleet aangekondig.

Maar ’n Fraser-Froning-tweestryd is op talle CrossFit-ondersteuners se wenslysie.

  • Punteleer teen Sondagoggend:

Mans:

  1. Mat Fraser 875 punte
  2. Jeffrey Adler 440 punte
  3. Samuel Kwant 415 punte
  4. Justin Medeiros 395 punte
  5. Noah Ohlsen 395 punte

Vroue:

  1. Tia-Clair Toomey 770 punte
  2. Katrin Davidsdottir 480 punte
  3. Kari Pearce 455 punte
  4. Haley Adams 415 punte
  5. Brooke Wells 400 punte

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae