CrossFitters bring jaarliks hulde aan klein AJ

AJ is die jongste seun van Albert en Yvonne Bronkhorst. Foto: Verskaf.

In CrossFit word ’n Hero WOD (Workout of the Day) geskryf om militêre helde wat in diens van hul land gesneuwel het, te vereer.

Oefenprogramme soos Murph en Chris Kyle laat talle CrossFitters in hul gimnasiums sweet, maar terselfdertyd word daar ook hulde aan die gevalle helde gebring.

Maar nie alle helde se dapperheid is aan veldslae en skermutselings gekoppel nie. Buitengewone durf word soms deur die kleinste en jongste helde getoon.

En AJ Bronkhorst is só ’n held.

Klein AJ is op 13 Julie 2016 in Midstream se Mediclinic gebore. Op 21 Oktober 2016 het hy sy laaste asem uitgeblaas nadat hy weke lank dapper, en met kwynende krag in sy klein lyfie, teen ’n kombinasie van twee virusse – RV (rhino virus) en RSV (respiratory syncytial virus) – baklei het.

AJ het dapper in hospitaal baklei. Foto: Verskaf.

“Hy was skaars drie maande oud toe hy begin verkouerig raak het,” het sy pa, Albert, aan Maroela Media gesê.

“Klein AJ is daardie jaar op 5 Oktober in die Life Midmed Hospitaal in Middelburg opgeneem, waarna hy per ambulans na Garden City se pediatriese intensiewesorgeenheid oorgeplaas is.”

Toetse is daar gedoen waarna hy aan ’n ventilator gekoppel is om hom te help asemhaal.

Hy het egter geen verbetering getoon nie en word later aan ander lewensondersteunende masjiene gekoppel.

“Ná twee weke in die intensiewesorgeenheid het ons moedige vegtertjie die stryd gewonne gegee en om 05:00 op 21 Oktober 2016 gesterf.”

Albert Bronkhorst doen jaarliks die AJ Hero WOD om hulde aan sy seun te bring. Foto: Verskaf.

Albert was in daardie stadium ’n vennoot by CrossFit Middelburg en hy het besluit dat sy seun ’n Hero WOD verdien.

“Die klein mensie het hard baklei met al die pypies en toerusting in én om hom. Vir 21 dae het hy vasgebyt en geveg. Maar uiteindelik was sy ou lyfie uitgeput en sy hart en longe kon nie meer verder nie.”

Die program is só saamgestel dat jy daardeur moet worstel.

“Vir diegene wat agterbly nadat hulle ’n geliefde aan die dood afgestaan het, is dit dikwels net só ’n groot stryd. Ons mis vir AJ daagliks,” het Bronkhorst gesê.

“Die WOD is ons manier om AJ te eer en hom te onthou.”

Die AJ Hero WOD (oefenprogram in Engels):

  • Drie rondes vir tyd (vir die drie maande wat hy geleef het).
  • Ná elke ronde moet daar 100 lunges (ronde een), 100 shuttles (ronde twee) en 100 burpees (ronde drie) gedoen word. Dit verteenwoordig sy 100 dae op aarde.

Elke ronde moet die volgende bevat:

  • 21 deadlifts teen 100 kg (hy is op die 21ste dag van Oktober oorlede)
  • 14 snatches teen 60 kg (hy was vir 14 dae in die intensiewesorgeenheid)
  • 13 cleans teen 60 kg (hy is op die 13de dag van Julie gebore)
  • 10 front squats teen 60 kg (op die 10de maand van die jaar oorlede)
  • 9 back squats teen 60 kg (om 09:00 die oggend gebore)
  • 7 overhead squats teen 60 kg (in die sewende maand van die jaar gebore)
  • 5 man makers met 20 kg-gewigte per hand (hy is om 05:00 oorlede)

CrossFit Middelburg en CrossFit Artaxes doen jaarliks die AJ Hero WOD op, óf so na moontlik aan, 21 Oktober.

Dit neem ongeveer 100 minute om die program te voltooi. Die vinnigste tyd (57 minute) is deur Artaxes se Jaco le Roux opgestel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.