CrossFitters wil die fiksste in die Kaap wees

Jason Smith. Argieffoto.

Afrika se beste CrossFit-atlete gaan volgende week op die Kaap toesak in ’n poging om hul kaartjie vir die CrossFit-spele in die VSA te bespreek.

Die Fittest in Cape Town-kompetisie sal as’t ware ’n maak-of-breek-sessie wees met slegs die wenner van die mans-, vroue- en spankompetisie wat op 27 Julie hul staal in Madison, Wisconsin, sal wys.

Die CrossFit-ontleder Annie Sakamoto het ’n paar atlete uitgesonder om in die Kaapse kompetisie dop te hou en die veteraan Jason Smith is weer eens die gunsteling om sy fiksheidstempel in die VSA af te druk. Hy het immers in 2017 ’n tiende plek by die Spele losgeslaan.

Onder die vroue-atlete beskou sy vir Dina Swift as een van die buiteperde.

Die 32-jarige Swift het in 2019 vir die Spele gekwalifiseer en sy is oorgehaal om volgende naweek haar beste te lewer.

“Die Fittest in Cape Town sal ongetwyfeld die ware toets wees. Die oefeninge is onlangs bekendgemaak en dit lyk taai, maar ook goed gebalanseerd,” het sy vir Maroela Media gesê.

Dina Swift. Foto: Verskaf.

Volgens Swift is so ’n CrossFit-kompetisie baie onvoorspelbaar en enigiemand kan met die louere wegstap. Tog sonder sy vir Michelle Merand, Michelle Basnett en Mary Jamieson as van die meer gevaarlike atlete uit.

“As ek eerlik moet wees, is almal eintlik deksels goed en jy moet op jou hoede met elke liewe oefensessie wees.”

Soos reeds genoem, het sy al in 2019 ’n draai by die Spele gemaak toe sy 98ste geëindig het.

“Dit was ’n onvergeetlike en ’n eens-in-’n-leeftyd-ervaring. Jy word van begin tot einde soos ’n koninklike deur die organiseerders behandel.

“CrossFit is ’n ongelooflike sport want jy kan basies op ’n daaglikse basis verbeter en dit daag jou elke keer uit. Jy dink die een dag jy is goed met iets, net om die volgende dag te besef dat jy nog baie hard moet werk om die beweging waarlik te bemeester.”

Volgende naweek in Stellenbosch sal Swift en kie hul beste gee om elke liewe fiksheidsuitdaging wat op hul pad kom te bemeester. Hulle het immers nog net hierdie een kans om vir die Spele te kwalifiseer.

  • Annie Sakamoto se atlete om by die Fittest in Cape Town-kompetisie dop te hou:

Mans: Jason Smith, Kealan Henry en Darren Zurnamer.

Vroue: Michelle Basnett, Michelle Merand en Dina Swift.

Spanne: Eikestad Mighty Oaks en CrossFit Tijger Valley.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.