Daar gaan in Tafelberg se skadu geswéét word…

Katrin Davidsdottir is een van die internasionale sterre wat by die Fittest in Cape Town CrossFit-kompetisie in aksie sal wees. Foto: Facebook.

Vroeg volgende jaar sak van die wêreld se voorste CrossFit-atlete op die Moederstad toe vir die Fittest in Cape Town-kompetisie.

CrossFit is waarskynlik een van die sportsoorte wat die vinnigste ter wêreld groei. Volgens www.crossfit.com is daar meer as 7 000 geaffilieerde CrossFit-gimnasiums in die VSA alleen, terwyl daar in Suid-Afrika net ’n rapsie minder as 160 is.

En waar niemand in 2007 juis veel van die CrossFit Spele geweet het nie, was daar vanjaar 415 000 atlete wat met eelt-gelooide en kalkbesmeerde hande probeer het om dáárdie ekstra optrek te doen: alles in ’n poging om hul vliegtuigkaartjie na Madison, Wisconsin, te bespreek … die tuiste van die Spele.

Wat die Kaapse fiksheidsdraai uniek vir Suid-Afrikaners, maar ook vir internasionale deelnemers maak, is dat dit een van slegs 16 internasionale CrossFit-kompetisies is waar individue, sowel as spanne, vir die Spele kan kwalifiseer. As jy dus Februariemaand in Kaapstad wen, klim jy ’n paar maande later op ’n vliegtuig vir die einste Madison-sweetpartytjie.

Die Kaap is nie verniet een van die wêreld se top-toeristebestemmings nie en van die fiksste CrossFitters is daarheen gelok, waaronder die Spele-kampioen van 2016: Katrin Davidsdottir.

Die Yslandse superster het vanjaar derde in Madison geëindig en het op sosiale media gesê dat sy op Kaapstad besluit het juis omdat Februarie vir haar die beste geleentheid sal gun om genoegsaam van 2018 se Spele te herstel én boonop voldoende voorbereidingstyd sal gee om vir volgende jaar se Madison-avontuur voor te berei.

Maar in gewone Afrikaans: Dit sal vir haar net lekker wees om in Afrika deel te neem!

“Ek moes tussen Londen en die Kaap kies (om deel te neem) en al het albei kompetisies baie aanloklik gelyk, was ek nog nooit in Suid-Afrika nie. Ek dink ek sal mal wees daaroor om ’n paar weke in die son deur te bring en ek het terselfdertyd al soveel wonderlike dinge oor die land gehoor. Ek kon net nie die geleentheid deur my vingers laat glip nie!”

Cole Sager is ’n CrossFit-veteraan. Foto: Facebook

Buiten Davidsdottir sal Cole Sager ook deel van die Kaapstad-kompetisie wees. Die 28-jarige Amerikaner is ’n veteraan wat met ’n rits verskynings by die CrossFit Spele spog en het vanjaar se kompetisie in die sewende plek afgesluit.

Met die wêreld se oë op Kaapstad gevestig, sal Davidsdottir en Sager saam met ongeveer 450 ander CrossFitters vir almal wil wys waar Dawid die fiksheidswortels begrawe het: onder die warm Afrika-son.

Die Fittest in Cape Town word van 31 Januarie tot 2 Februarie 2019 in Groenpunt, Kaapstad, beslis.

  • Van die vorige jare se wenners is:

Spanne:

2016: Cape CrossFit Wolfpack
2017: PBM Unite
2018: Cape CrossFit Wolfpack

Individuele vroue:

2016: Johanni Hugo (CrossFit Eikestad)
2017: Celestie Engelbrecht (onafhanklik)
2018: Michelle Merand (CF Brackengate)

Individuele mans:

2016: Jason Smith (CrossFit Kayalami)
2017: Ruan Duvenage (onafhanklik)
2018: Alan Foulis (Cape CrossFit)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Peet ·

Hoe weet jy iemand doen CrossFit – ? Hulle sê vir jou! Crossfit n sport lol nee wat dankie, ek wil nie die beste in oefening wees nie lol

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.