Daar is nóg ’n Spele aan die gang

Patrick Vellner in aksie by die CrossFit-spele. Foto; Twitter.

Fiksheid is die wagwoord by die 2021-CrossFit-spele in Madison, Wisconsin, waar van die wêreld se voorste CrossFitters sake uitspook om met die titel as die “fiksste ter wêreld” weg te stap.

En anders as by die Olimpiese Spele in Tokio waar atlete poog om die beste in ’n enkele sportsoort (soos swem, atletiek of gimnastiek) te wees, word CrossFitters se fiksheid in ’n reeks uitmergelende sessies getoets.

Dit word nie net van atlete verwag om swaar gewigte op te tel nie, maar ook om gimnastiekbewegings te bemeester of om ’n marathon-roeisessie aan te pak. Alles sommer dikwels op dieselfde dag.

Suid-Afrika se Jason Smith beklee tans die 18de plek ná vier items by die Spele. Die 37-jarige Smith het in 2019 in die 29ste plek klaargemaak en hy sal oorgehaal wees om daarop te verbeter – hy was immers tiende by die 2017-Spele.

Selfs met Mat Fraser uit die prentjie sal dit egter g’n maklike taak wees nie. Jong Turke soos Justin Medeiros en Jonne Koski is die toekoms van die sport, terwyl Spele-hardebaarde soos Noah Ohlsen en Patrick Vellner ook hul stempels in Fraser se afwesigheid wil afdruk.

SA se Jason Smith. Foto: Fittest in Cape Town/Twitter.

Dan sal Scott Panchik ook vir oulaas alles in die stryd werp om op die podium te staan. Die 33-jarige Amerikaner is ’n Spele-veteraan en hy het onlangs aangekondig dat vanjaar die laaste keer sal wees dat hy die sweep op die groot verhoog sal klap.

Onder die vroue is Tia-Clair Toomey weer die gunsteling om met die goue medalje weg te stap. Die Australiër het die afgelope vier Spele gewen en sy is klaar weer in die eerste plek.

Haley Adams, wat saam met Rich Froning by CrossFit Mayhem in die VSA oefen, kan haar dalk in ’n paar items jaag, maar Toomey is net té gewoond aan wen.

Michelle Basnett neem onder die Suid-Afrikaanse vlag deel, maar die 24-jarige skaaf al vir ’n geruime tyd by CrossFit Cornelius in die VSA aan haar vaardighede. Sy is 26ste op die punteleer.

So van Froning gepraat. Sy Mayhem Freedom-span is tans eerste in die spankompetisie en hulle het met ’n uithalervertoning vorendag gekom om die vierde item onder die neuse van CrossFit Pro1 te wen.

Suid-Afrika se CrossFit Eikestad is in die 28ste plek.

  • Die aksie duur tot Sondag en dit kan op CrossFit se YouTube-kanaal gevolg word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

pamela ·

Ons ‘n Suid Afrikaans meisie wat tweede plek gekry het in ‘n haar afdeling. Sy het die volgende kondisie: CRPS and Dystonia. Haar Instagram handle is
@letchen_dp (Skies vir die gemende taal). Ek dink sy is fantastiies.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.