Daar word vandag in Tafelberg se skadu gejáág

Nissan se Sacha Fenestraz blits deur Kaapstad se strate. Foto: Paulo Maria/DPPI via AFP.

Formule E is in Suid-Afrika en die battery-aangedrewe motors gaan omtrent in Kaapstad se strate jaag.

Boonop word die roete as een van die vinnigstes in die reeks bestempel en die motors kan ʼn topsnelheid van tot 322 km/h bereik.

Nou, as jy wonder hoe dié motors klink, vergeet maar vir eers van die brullende enjins van F1-vuurwaens. Aikôna, dit klink of daar tans ʼn hengse Scalextric-stel naby die Kaapstad-stadion in Groenpunt opgestel is.

Maar volgens Tommaso Volpe – Nissan se motorsportbaas – waardeer die renjaers die bedagsame muskietklanke (as jy wil) van hul ekovriendelike renmotors. Hulle kan nou hul ondersteuners se aanmoediging hoor en nie net die gedreun van hul kragtige enjins nie.

Suid-Afrika se Kelvin van der Linde sal ook deel van die renaksie wees nadat hy vir die afgelope paar wedrenne die skoene van Robin Frijns (wat vroeër sy gewrig beseer het) in die ABT Cupra-span volstaan.

“Om aan ʼn Wêreldkampioenskap-resies in Suid-Afrika deel te neem is ongetwyfeld ʼn droom wat bewaarheid is,” het die 26-jarige renjaer gesê.

Volgens die Johannesburg-boorling het hy nog nie veel kans gehad om ten volle vertroud te raak met sy renmotor nie, maar hy beloof om sy beste te gee.

“Dit is seker nie die perfekte omstandighede om ʼn tuiswedren te hê nie – ek sou natuurlik beter en meer voorbereiding waardeer het – maar ek wil die tyd hier geniet. Ek dink daar is baie om vir Suid-Afrikaanse motorsportliefhebbers te wys.”

Die amptelike wedrenaksie begin om 16:03 en die aksie word regstreeks op SuperSport uitgesaai.

  • Renjaers:

ABT Cupra: Kelvin van der Linde (Suid-Afrika) en Nico Mueller

Avalanche Andretti: Jake Dennis en André Lotterer

DS Penske: Jean-Eric Vergne en Stoffel Vandoorne

Envision Racing: Nick Cassidy en Sebastien Buemi

Jaguar TCS Racing: Mitch Evans en Sam Bird

Mahindra Racing: Oliver Rowland en Lucas di Grassi

Maserati MSG Racing: Edoardo Mortara en Maximilian Gunther

Neom McLaren: Jake Hughes en René Rast

NIO 333 Racing: Dan Ticktum en Sergio Camara

Nissan: Sacha Fenestraz en Norman Nato

Tag Heuer Porsche: Pascal Wehrlein en Antonio da Costa.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.