Dag of nag, Djokovic bly ’n tenniskrag

Foto: Christophe Archambault/AFP.

Die wêreld se voorste manstennisspeler, Serwië se Novak Djokovic, het gisteraand vir ’n tikkie tennisgeskiedenis op Roland-Garros gesorg.

Sy kragmeting teen Tennys Sandgren was die eerste aandtweestryd ooit op die Philippe Courtier-baan en die 34-jarige speler het nie teleurgestel nie. Hy het die wedstryd met 6-2, 6-4 en 6-2 gewen.

“Dit was nogal ’n vreemde ervaring, maar ook ’n voorreg om die eerste manswedstryd in die aandsessie op Roland-Garros te speel,” het Djokovic gesê.

Hy is ook tevrede met sy onlangse vertonings op kleibane.

“Ek is besig om my voete op die bane te vind en ek slaan die bal ook baie lekker. Ek is tevrede met die wyse waarop ek speel.”

Die Amerikaanse Sandgren, wie se ma Lisa ’n Suid-Afrikaner is, het sy bes probeer om die Serwiër in toom te hou, maar Djokovic was uiteindelik net te goed.

Die verdedigende kampioen, Spanje se Rafael Nadal, het sy veldtog om ’n 14de Franse Ope-titel te verower op ’n wennoot begin toe hy Australië se Alexei Popyrin met 6-3, 6-2 en 7-6 geklop het.

Indien Nadal weer eens met die louere wegstap, sal hy die enkelspelspeler wees met die meeste Grand Slam-titels agter sy naam.

Hy deel tans die rekord (20) met Roger Federer.

Intussen duur Suid-Afrika se Kevin Anderson se tennistreurmare voort nadat hy gister in sy openingswedstryd van die Franse Ope deur Soon-woo Kwon uitgeskakel is.

Die telling was 7-5, 6-2, 2-6 en 7-6 in die Suid-Koreaanse speler se guns.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.