Dakar: SA se Giniel en Brian laat wiel

Giniel de Villiers. Foto: Franck Fife/AFP.

Ná ’n paar moeilike dae het Suid-Afrika se Giniel de Villiers se Hilux-enjin weer kliphard gebrul toe hy die vyfde Dakar-skof in ’n tyd van 5:09:25 gewen het.

Uitslag-gewys was dit ’n uitstekende dag vir die Suid-Afrikaanse deelnemers toe Brian Baragwanath in die tweede plek klaar gemaak het – net 58 sekondes stadiger as De Villiers.

“Dit is altyd ’n goeie skof wanneer ’n mens wen,” het De Villiers tong in die kies gesê ná die 17de skofoorwinning van sy loopbaan.

“Dinge wou aanvanklik maar net nie vir ons reg loop nie, maar met hierdie skof het alles skielik net in plek geval. Ons het die wegspring ook op ’n baie rustiger wyse benader en dit het ongetwyfeld gewerk.”

Stephane Peterhansel – wat die moordende veldtydren reeds 13 keer gewen het – het derde geëindig, terwyl Nasser al-Attiyah vierde klaargemaak het.

Dit was egter ’n moeilike dag vir Suid-Afrika se Henk Lategan en Brett Cummings. Hul Toyota Hilux het vroeg in die skof gerol en Lategan het sy skouer beseer. Hy is per helikopter na mediese personeel vervoer, terwyl Cummings geen beserings opgedoen het nie.

  • Jeanette Kok-Kritzinger van Wiele2Wiele en Stephie Vetter van die Southern Africa Dakar Group hou ons op hoogte van wat in die Dakar-tydren gebeur en hoe dit met ons Suider-Afrikaanse deelnemers gaan.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.