Daniil in die Wimbledon-leeukuil

Daniil Medvedev in aksie op Wimbledon. Foto: Adrian Dennis/AFP.

Daniil Medvedev, die wêreld se naasbeste manstennisspeler, is steeds hoopvol dat hy later vanjaar op Wimbledon sal kan afslaan.

Organiseerders van dié gewilde grasbaantoernooi het egter vroeër ’n stokkie voor die deelname van Russiese en Belarussiese spelers gesteek.

“Ek weet nog nie of dit 100% die finale besluit is en of ek beslis nie mag deelneem nie. Ek sal egter bly wees as ek mag speel; ek is baie lief vir hierdie toernooi,” het Medvedev op die vooraand van die Genève-ope gesê.

“As ek nie toegelaat word om te speel nie, sal ek probeer om by ander toernooie in te kom en my bes doen om vir volgende jaar voor te berei; mits ek dán mag speel.”

Die 26-jarige Medvedev speel vandag teen Richard Gasquet in Switserland nadat ’n breukoperasie hom vir ’n paar weke langs die baan gehou het.

“Dit is ’n moeilike situasie en almal se siening sal waarskynlik hieroor verskil. Dit is nie my besluit om te maak nie; alles draai nou om Wimbledon, die ATP-beheerliggaam en dalk selfs die Britse regering.”

In ’n onlangse verklaring het Wimbledon-base Rusland se militêre optrede in Oekraïne veroordeel.

“Ons het alles noukeurig én in konteks van ons verantwoordelikheid jeens die spelers, die gemeenskap en lede van die Britse publiek oorweeg. Gegewe die hoë profiel van Wimbledon – nie net in die Verenigde Koninkryk nie, maar ook wêreldwyd – is dit ons plig om ons deel te doen om Rusland se globale invloed deur die sterkste middele denkbaar te beperk.”

Die besluit het egter onder kritiek deurgeloop met topspelers soos Rafael Nadal en Novak Djokovic wat hul gewig agter die Russiese spelers ingegooi het.

“Ek dink die besluit is baie onregverdig jeens my Russiese kollegas,” het Nadal gesê. “Die oorlog is nie hulle skuld nie. Ek kry hulle jammer en dit is hartseer dat dinge so uitgedraai het.”

In sy reaksie het Djokovic, die wêreld se voorste manstennisspeler, ook die situasie as betreurenswaardig bestempel.

“As speler kan ek nie hierdie besluit van Wimbledon ondersteun nie; ek dink trouens dat dit malligheid is. Die spelers het immers niks met die oorlog uit te waai nie; wanneer politiek met sport inmeng, is die uiteinde nooit goed nie,” het die Serwiese ster gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Rupert Ashford ·

Toemaar, Wimbledon is vanjaar net ‘n groot vertoontoernooi nadat die ATP alle ranglyspunte van hulle gestroop het in reaksie op die sinnelose besluit oor spelers van Rusland/Belarus. So as Daniil nie mag speel nie is dit nie die dood van Katryn vir hom nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.