Daniil kan Novak onttroon

Daniil Medvedev en Novak Djokovic. Foto: Christophe Archambault/AFP.

In die dae van konings en koninkryke was daar altyd ’n kroonprins, ’n ambisieuse familielid of ’n doodgewone troonrower wat gereed gestaan het om die leisels by die heerser oor te vat.

En ’n mens kan van die geskiedenis sê wat jy wil: Dit het die geneigdheid om homself te herhaal – selfs in die sportwêreld waar septers vir tennisrakette verruil word.

Novak Djokovic is al vir baie weke die wêreld se voorste tennisspeler, maar daar is ’n moontlikheid dat hy dalk binnekort deur Daniil Medvedev onttroon kan word.

Indien die jong Rus die komende ATP500-toernooi in Mexiko wen sal Djokovic magteloos wees om sy opmars te stuit.

Selfs al wen die 34-jarige Serwiër sy toernooi in Dubai.

Tog sal Djokovic uitgehonger wees om weer sy stempel op die internasionale tennisverhoog af te druk: Rafael Nadal se Grand Slam-sukses in Melbourne sal hom net meer aanvuur.

Goran Ivanisevic, het juis vantevore ander spelers gewaarsku dat die Serwiër nog baie ambisie-petrol in die tenk oor het.

“Novak is soos die aksiehelde in die flieks. Maak nie saak hoeveel keer hy geskiet word nie, hy staan net elke keer op. Daar is elke dag iets nuuts; elke dag iets beters. Hy gaan nie ophou nie. Hy wil nie ophou nie,” het die Kroatiese oudspeler gesê.

En as hy in Dubai wen en Medvedev bekerloos die vlug terug na Rusland aanpak, sal die Djokovic-bewind net nog sterker word.

Volgens die amptelike ATP-webblad sal die volgende scenario’s in Medvedev se guns tel:

  1. As hy in Mexiko wen, is Djokovic magteloos.
  2. As hy vir die eindstryd in Mexiko kwalifiseer en Djokovic nie die titel in Dubai wen nie.
  3. As hy die halfeindstryd haal en die Serwiër nie vir die eindstryd kwalifiseer nie.
  4. As die Rus in die halfeindstryd speel en Djokovic nie deel van die halfeindstryd-aksie in Dubai is nie.
  5. Goeiste, hy kan die wêreldsepter swaai selfs al word hy in die eerste of tweede ronde uitgeskakel; mits Djokovic dan nie die kwarteindstryd haal nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Treurwilger ·

Iémand moet seker Die Beste eendag onttroon, en wie beter as Medvedev wat op no. 2 in Novak se nek blaas.
Hopelik nie nou al nie, of slegs tydelik.
Go, Novak!

Thom ·

Novax is teen beide Nadal en Federer agter in wedstryde in die groot toernooie ___ die beste ? Snaakse rekenkunde!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.